Local news

Hartaanval eis jong sakeman

’n Jong sakeman van Modimolle is die afgelope week onverwags aan ’n hartaanval oorlede.

Nathan Meintjies, bekend onder inwoners as Natie, is op Donderdag 3 Augustus in die Unitas-hospitaal in Centurion oorlede. Hy sou op 21 Augustus 45 jaar oud geword het.

Meintjies, wat reeds sedert 1997 in Modimolle woon, was die eienaar van JJ Besproeiing, en die takke van Artificial Grass en Rubber-It in die dorp.

Volgens sy familie het Natie sy rykdom nie in aardse besittings gemeet nie, maar aan sy familie en hegte vriendekring. Hy sal onthou word vir sy oop hand en hart. Hy het werklik uit sy pad gegaan om ander te help. Hy was vol grappies en het graag gesellig saam met vriende en familie gekuier. Hy het elke dag voluit geleef.

Natie laat sy vrou Mandie en kinders Jandré (21), JC (18) en Elzaan (16) agter, asook sy susters Nita Oberholzer, Rentia Fourie, Retha van Staden en skoonma Elsa Diederiks.

Volgens sy familie sal die onderskeie ondernemings se deure oop bly.

Sy roudiens vind om 11:00.op Donderdag 10 Augustus vanuit die NG Kerk Nylstroom-Oos-gemeente plaas.

Related Articles

Back to top button