Local news

Wees positief en verander waar jy kan, sê Gerda

Die Pos het tydens vrouemaand gaan aanklop by een van Modimolle se voorlopervroue, want dit neem ’n sterk vrou om die skoene vol te staan as “ma” van 170 kinders.

Gerda van der Merwe, wat reeds sedert 2014 aan die hoof van die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle staan, dra hierdie eintste paar skoene met gemak.

Sy pak dié taak met ’n passie vir maatskaplike werk met groot entoesiasme en ’n vonkel in haar blou oë aan. Die Abraham Kriel-kinderhuis is ’n tuiste vir sowat 170 kinders vanaf babas tot 18-jariges. Hulle word met liefde versorg en voorberei vir die wêreld daar buite.

“Ek was ná skool onseker oor wat om te studeer. Maatskaplike werk was een van die opsies wat ’n aanlegtoets aangedui het. Sonder om heeltemal seker te wees wat dit behels, het ek ingeskryf vir die kursus,” vertel sy. “Op die ou einde was dit regtig my passie. Ek glo elke mens is in wese geroep vir ’n bepaalde beroep en ek is oortuig hierdie is my roeping. Die werk het my baie as mens ontwikkel en dit is vir my lekker om ’n verskil in mense se lewens te maak.”

Van der Merwe het voorheen by die Jakaranda-kinderhuis in Pretoria gewerk en ook by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) waar sy blootstelling aan verskeie terreine van maat-
skaplike werk gehad het, soos die tehuis vir ongehude moeders, voorkomingsdienste en gemeenskapswerk.

Sy is getroud met Manie, wat jare lank in die kinderbeskermingseenheid by die polisie was. Hy het onlangs afgetree en sit nou hand by by die kinderhuis.

Bemoeilik die feit dat sy ’n vrou is in so ’n senior pos?

“Nee wat, ek dink mense en die kinders ken my. Hulle weet dat ek nie alles toelaat nie en waar my grense is. As ’n mens die respek van die kinders het, maak dit glad nie saak of jy ’n man of ’n vrou is nie. Hulle weet hulle kan op my staatmaak. Ek hou by my woord — of dit nou positief of negatief is. Ek dink ’n vrou is dikwels meer ingestel op die emosionele aspekte, wat ook belangrik is. Ons verhouding met die departementele amptenare is ook goed. Dit is soms vir mans moeilik om opdragte van vroue te aanvaar, maar dit pla my nie.”

Sy sê haar grootste uitdagings was toe sy pas by die kinderhuis begin het.

“Die werknemers was nog gewoond aan die ou manier van doen en ek wou veranderinge bring. Een daarvan was dat dissipline deur huisouers self hanteer moet word en nie alles deur die hoof se kantoor nie. My uitgangspunt was dat huisouers dissipline in hul huise kan toepas — almal het nie hiermee saamgestem nie,” het sy gesê. Die ander uitdagings is om die finansies gesond te hou en om relevant te bly. Dit was vir my van die begin af belangrik dat die kinderhuis nie as ’n eiland in die gemeenskap moet funksioneer nie. Ek wou die mense van die dorp op ons terrein kry. Ons het daarom gereeld geleenthede wat by die kinderhuis gebeur omdat ons ons fasiliteite beskikbaar maak: daar vind byeenkomste plaas of staatsdepartemente hou hul vergaderings hier.”

Die personeelkorps bied groot ondersteuning en droom saam groot drome vir dié kinderhuis. Haar familie speel ook ’n belangrike rol om haar hande hoog te hou.

“Ek is ’n positiewe mens en raak nie sommer negatief nie. Ek beskou ’n uitdaging nie as iets wat my gaan terughou nie, maar as ’n geleentheid om ’n verskil te maak. As ek af voel probeer ek identifiseer wat dit is wat my so laat voel en besluit of iets daaraan kan verander of nie. As ek dit nie kan verander nie, aanvaar ek dit en gaan aan met my lewe.”

Oor leierskap glo sy dat ’n mens nie net kan opdragte uitdeel nie.

“Ek het geleer ’n mens moet deel wees van die werksmag — dan gebeur dinge. Ek probeer deur voorbeeld te lei en gebruik my hande.”

Related Articles

Back to top button