LifestyleLocal LifestyleLocal news

Eet en leef reg, sê Welda

Navorsing toon dat ’n mens se leefstyl ’n groot invloed op jou gesondheid het.

Welda Maree, wat ’n gesondheidsorgsentrum, Kingfisher Lifestyle Centre, in die Loubad-omgewing naby die Loebies-roofdierpark bestuur, sê sy het doelbewus die korporatiewe wêreld agtergelaat en ’n gesonder leefstyl aangepak.

Vertel ons van jou lewe voordat jy in Bela-Bela kom woon het:

Ek is in Pretoria gebore en het tot drie jaar gelede daar gewoon. Ek is kort voor die Covid-19-pandemie oortollig verklaar by die maatskappy waar ek gewerk het. Dit is toe dat ek en my man, Etienne, besluit het ons is klaar met die stad en wil rustiger leef.

Ons het vanaf Januarie 2021 in ’n mobiele woonwa na die Wes-Kaap gereis. Daar het ons in Barrydale die geleentheid gekry om opleiding in mediese uitreikwerk (Medical Missionary Work) te ontvang. Ons het ons ná ’n jaar, danksy vriende, buite Bela-Bela kom vestig en ’n gesondheidsentrum tot stand gebring. Sonder die Here se genade sou ons nie wees waar ons vandag is nie.

Was die verandering die moeite werd?

Ek het 21 jaar lank vir ’n groot klerewinkelgroep gewerk. Dit was altyd ’n gejaag, gestres en jy het geen tyd vir enigiets behalwe werksverpligtinge gehad nie. Toe ek oortollig verklaar is, was dit ’n reuseskok. Ek het nie geweet waarheen nou nie en was baie emosioneel.

My man wou nog altyd sendingwerk doen, so dit was nie vir hom so erg nie. Die oorgang was makliker as jy weet jou besluit en toekoms is in die Here se hande. Hy het toegelaat dat ’n deur toemaak, maar het ’n groot deur elders geopen. Binne ses maande is ons huis verkoop, ons kinders versorg en ons motor verkoop en het ons woonwa ons in staat gestel om te reis waarheen ons gelei is.

Ons word grootgemaak met die wete dat ons ’n huis en voertuig en ander besittings moet aanskaf. Sekere mense het gedink ek het my kop verloor, maar ek het diep binne my geweet die Here het iets meer vir ons bestem — op ’n geestelike én gesondheidsvlak. Elke mens is eintlik geroep om die Evangelie te verkondig, maar ons moet tyd maak om by God stil te staan.

Waarom is mense geneig om eers later in hul lewens gesonde keuses te maak?

Alles is ’n gejaag en daar is altyd ’n vinnige oplossing. Niemand wil die tyd neem om na hul gesondheid te kyk nie. Om ’n simptoom te behandel, is nie dieselfde as om die oorsprong van ’n ongesteldheid te genees nie.

Daar is ’n ware gesegde: “If you do not make time for your wellness, you will be forced to make time for your illness.’ As jy regtig gesond wil word, is daar geen quick-fix nie. Omtrent alle medisyne het newe-effekte, maar natuurlike middels bring meer holistiese genesing.

Hoekom moet mense liefs die ‘langer pad’ vir ’n gesonder lewe neem?

Dink maar net hoeveel keer jy in een jaar verkeerd eet en jou liggaam aan stresvolle en ongesonde omgewings blootstel? As jou liggaam siek, is dit ’n teken dat jou liggaam net nie meer die pas kan volhou nie. Ja, ons liggame kan baie stres hanteer voordat dit werklik ingee, maar dit neem langer om te herstel omdat ons ons liggame oor baie jare afgetakel het met ongesonde gewoontes.

’n Gesonde leefstyl is maklik om te begin: eet reg, sny slegte dinge soos rook, kaffiëne en suiker uit, doen oefening, kry genoeg sonlig en vars lug in.

Wanneer is dit te laat?

Dit is nooit te laat nie! Begin net en jy sal ’n beter gehalte lewe lei en meer energie hê om nuwe projekte aan te pak. Jou brein sal helderder wees en sodoende kan jy ook die Here se stem makliker en duideliker hoor. Sonder die Here, is ons niks.

Wat verteenwoordig ’n gesondheidsorgsentrum vir jou?

Ek is nie ’n mediese dokter nie, maar help mense om hul liggame deur middel van natuurlike middels, masserings, rugbelynings en geestelike benadering te herstel. Die Here is die werklike geneesheer.

Die mooi natuur dra ook by tot herstel. Ons is instrumente in God se hande en dansky sentrums soos hierdie kry mense hul lus vir die lewe terug.

Dink jy daar is helende kwaliteite in die Bosveld-omgewing?

Baie mense wil Bosveld toe verhuis. Hier is kalmte, rustigheid, die mooi natuur, vars lug en sonskyn. Ek weet hoe klink geraas en stres en sal altyd die natuur bo die stadslewe verkies.

Al die elemente vir genesing is in die natuur. Die stedelike omgewing is toksies. Swak gewoontes, besoedeling, geraas en stres kan mense siek maak.

Hoe oorleef jy in die huidige ekonomiese klimaat?

Alles word duurder, maar indien jy reg eet en leef, is die koste op die langtermyn goedkoper. Gesonde mense dok minder op vir medikasie of konsultasiefooie vir dokters. In die huidige ekonomiese klimaat kan ’n mens beswaarlik swak gewoontes bekostig. Beskikbare geld moet liefs op gesonde kos bestee word. Sny onnodige dinge uit wat nadelig is vir jou. Plant jou eie groente wat organies en gesond is.

Vra jouself af: Wil jy gesond leef of wil jy ongesond wees en jouself siek maak? Net jy kan daardie besluit neem.

Related Articles

Back to top button