Local news

Fratsongeluk eis kleuter

"Dit was absoluut ’n fratsongeluk. Niemand het geweet dat die tafel se blad los was nie."

Die ouers en familie van klein Henning de Ridder (2) van Mookgophong, Jan en Emma de Ridder, was die afgelope week nog te geskok om met Die Pos oor hul kleuter se dood te gesels.

Henning is op Saterdag 22 Julie in ’n fratsongeluk dood toe ’n sementtafeltjie se los blad vermoedelik op hom geval het.

Volgens sy tannie, Cornelia Pretorius, het die ongeluk ongeveer 16:00 Saterdagmiddag gebeur.

“Die tweejarige Henning het buite rondgehardloop en met sy babahondjie gespeel. Hy het in ’n stadium stil geraak agter die boom waar hy gespeel het,” het sy gesê.

Die bure se 7-jarige seuntjie het daar gekuier en was saam met Henning. Henning se ouer boetie, Marthinus de Ridder, ’n gr. 8-leerder by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, het om die boom geloop en gesien hoe die bure se seuntjie probeer om die sementblad van Henning af te haal. Marthinus het vinnig hand bygesit om die swaar blad te verwyder en na sy pa geroep om te kom help. Die blad het op Henning se bo-lyfie geval. Hy het op sy sy gelê toe hy gevind is.

Daar word vermoed dat hy moontlik op die tafeltjie wou klim waarna die los blad geskuif en op hom geval het.

Jan het sy seuntjie opgetel en hy en sy vrou, Emma, het saam met die bure na die naaste mediese kliniek gehaas. Op pad na die kliniek het Henning sy laaste asem uitgeblaas.

“Dit was absoluut ’n fratsongeluk. Die tafelblad was klaarblyklik los en het gekantel toe Henning daarop probeer klim het. Niemand het geweet dat die tafel se blad los was nie,” het Pretorius gesê.

Hy was ’n lewendige seuntjie en was baie lief vir visvang. Die gesin het reeds beplan om Sondag ’n familie-uitstappie te neem om lyne te gaan natmaak.

Die De Ridders het vier kinders, Deseree, Marthinus, Emily en klein Henning. Hulle woon op ’n kleinhoewe tussen Mookgophong en Modimolle.

Jan de Ridder het in 1998 saam met sy ouers na Mookgophong verhuis en was ook ’n leerder van Hoërskool Hans Strijdom.

Henning is op 10 Desember 2020 gebore.

Pretorius het namens Jan en Emma gesê: “Baie dankie vir almal se meelewing, simpatie, oproepe en selfs donasies. Spesiale dankie aan die NG Kerk Naboomspruit-gemeente. Ons wil ouers waarsku oor soortgelyke tuinmeubels. Wees bedag daarop en sorg dat die blad vas is aan die voetstuk, want die los blad het ’n kosbare kind se lewe gekos.”

Related Articles

Back to top button