Local news

Schlieben was man van vele talente

’n Bekende sakeman van Modimolle, Rudi Schlieben (56), is op Sondag 9 Julie onverwags in die MDR-hospitaal in Modimolle oorlede.

Sy lewensmaat van 18 jaar, Anton de Klerk, sê Schlieben het die afgelope tyd gesondheidsprobleme ervaar, maar die presiese oorsaak van sy dood is nog nie bepaal nie.

“Rudi het in Februarie ’n liesbreek-operasie ondergaan en sy gesondheid het daarna versleg. Die operasie was suksesvol, maar sy bene het na die operasie begin swel en hy het probleme ondervind om te loop,” het De Klerk gesê. Hy sê Schlieben het voor die operasie geen teken van enige onderliggende siektes getoon nie.

Schlieben was in die omgewing bekend as ’n professionele webtuiste-ontwerper, kunstenaar en holistiese praktisyn. Hy was voorheen bykans 10 jaar lank ’n bestuurslid van die Waterberg-sakekamer.

“Hy was ongelooflik gedrewe en baie goed gekwalifiseerd. Hy was een van die besigste en hardwerkendste mense wat ek geken het. Hy het talle mense bygestaan met spirituele hulp en baie werk in die gemeenskap verrig.”

Schlieben is in Pretoria gebore en het sy skoolloopbaan in Makhado (Louis Trichardt) voltooi.

Hy het sy diensopleiding by die Saldanha Militêre Akademie voltooi en in 1996 ’n meestersgraad in bemarking aan die Universiteit van Pretoria behaal.

Hy was ongeveer 12 jaar lank ’n dosent by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT).

Hy het in 1997 sy maatskappy, Equador Marketing and Design, gestig, vertel De Klerk.

Schlieben het ook ’n aanlyn-vetplantkwekery, bekend as Succlentshop.co.za begin en het vetplante oor die wêreld versamel en gelewer.

Hy het die besige stadslewe en druk werkprogram verruil vir die rustigheid van Makhado en het later saam met De Klerk na die Kromkloof-omgewing by Lekkerrus tussen Modimolle en Mookgophong verhuis.

“Hy was ongelooflik skeppend en was omtrent 39 jaar ’n musiekmaker, meer bekend as DJ Ruddha. Hy was ’n puik kunstenaar, het pragtige foto’s geneem en het ’n groot passie vir mense gehad.”

Hy het later jare in hipnose gespesialiseer. “Rudi het ’n hele paar mense gehelp en advies gegee om slegte gewoontes soos alkholmisbruik en rook af te leer.”

De Klerk sê daar word geen formele begrafnis beplan nie.

’n Gedenkbyeenkoms word vir einde September saam met ’n paar vriende beplan.

Schlieben laat sy ouers, broer, suster en De Klerk na.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button