Local news

Kinderhuis steek hand uit

’n Groep inwoners van die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle het die afgelope vakansie ingespring om die terrein van Abba Mekaar op te knap.

Abba Mekaar, wat in Bakkerstraat in Modimolle geleë is, bied huisvesting aan haweloses en mense wat slegs ’n Sassa-toelae ontvang en goedkoop verblyf benodig.

“Dit is vir ons belangrik dat ons kinders, soos in enige ander huishouding, moet leer dat ’n mens nie net moet ontvang nie, maar ook moet gee,” het Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, gesê.

Abba Mekaar bied verblyf aan tussen 12 en 15 mense.

Hannes du Preez van die Gereformeerde Kerk Nylstroom-gemeente was baie beïndruk met die hulp wat die kinderhuis se inwoners verleen het. Die gemeente bied finansiële steun aan van die mense by Abba Mekaar.

“Abraham Kriel is regtig meer as net ’n kinderhuis. Dit was so goed om te sien hoe hul kinders en personeel betrokke is by die opheffing van die dorp. Die kinders het die ouer mense met soveel respek en deernis behandel,” het hy gesê.

Die lang gras om die wonings is weer kort gesny en bome is gesnoei. Die boomstompe en takke is weggery. Die inwoners probeer om self die terrein in stand te hou, maar sonder die nodige toerusting is dit ’n uitdaging, sê Louis Botha, nutsman, wat jare lank op die terrein woon.

’n Inwoner wat reeds in sy tagtigs is het ook fluks hand bygesit met die opknapprojek. ’n Bossiekapper is een van die items wat hul taak makliker sal maak en dié item is bo-aan hul wenslysie.

Die eiendom word bestuur deur die Abbatemarco-familie.

Related Articles

Back to top button