Local news

Bosveld se slange voel nie die winterkoue nie

Die Bosveld is bekend vir ’n plek waar die kraaie gaap en die slange nie slaap nie.

Baie mense glo dat slange nie juis aktief is in die winter nie, maar omdat ons omgewing spog met baie gematigde winters, word slange steeds dikwels in die winter aangetref.

Inwoners van Noodhulp buite Bela-Bela en Driefontein buite Modimolle het die afgelope week luislange in hul dakke ontdek.

Theunis Victor, plaaslike slangvanger, vertel hy is uitgeroep om albei die slange te vang en te hervestig.

“Slange jag nie gewoonlik in die winter nie, want hulle kan nie genoeg liggaamshitte opbou om hul prooi te verteer nie, maar hulle sal wel hul skuilings verlaat en die warm winterson opsoek. As die son sak en dit koud word, sal hulle terug seil na hul gate toe,” vertel hy.

Albei die luislange is binne-in geboue aangetref waar hulle heerlik snoesig onder die daksinkplate ingekrul het.

“Sinkplate is lekker warm in die dag en in hierdie gevalle het die slange daardie hitte opgesoek. Ek kon die een in Driefontein vang en hervestig. Die ander kalant het ons egter ontwyk, maar hy sal weer die hitte kom opsoek. Inwoners wat op slange afkom, word aangeraai om ’n slangvanger te kontak om die slange te verwyder.”

Theunis sê luislange se paartyd is gewoonlik tussen September en Oktober. Al is hul bewegings in die winter beperk, bly hulle steeds gevaarlik en mense moet hulle versigtig benader.

Related Articles

Back to top button