Local news

Padtekens in Modi is weer duidelik

Die padmerke by ’n stel besige verkeersligkruisings in Modimolle het op Dinsdag 18 Julie ’n nuwe laag verf gekry.

Die merke was nie meer duidelik sigbaar nie en die verkeersligte naby die ingang van die dorp, voor Wonderstore, dra besonder druk verkeer.

“Ons was bekommerd dat dit onveilig is,” het raadslid Wiets Botes gesê.

Die werk is deur ’n groep van die gemeenskapswerksprojek, algemeen bekend as CWP-werkers, verrig as deel van Mandeladag-vieringe.

“Wyk 12 het tot onlangs toe nie CWP-werkers gehad nie. Nadat ons navrae daaroor gerig het, is 25 werkers aan ons toegeken. Die werkers bestaan uit plaaslike inwoners wat deur die regering betaal word. Hulle maak elke Maandag die begraafplaas skoon en word ook elders in die wyk gebruik. Hulle werk ook in wyk 11,” het Botes gesê.

Die verf en toerusting vir die verf van die padtekens is deur ’n plaaslike sakeman, Van Zyl Oberholzer van die nabygeleë Power Built geskenk.

Die groep het daarna opruimingswerk by die Ons Hoop-tehuis verrig en daar is worsbroodjies vir die bejaarde inwoners gemaak.

Related Articles

Back to top button