Local news

‘Leef in hoofletters; die lewe is kort’, sê Kitty

Kitty Bodenstein, voorsitter van Vroue Landbou-unie (VLU) se Mabalingwe-tak buite Bela-Bela, is iemand wat elke stukkie genot uit die lewe wil put.

Bodenstein en die bestuurspan is baie opgewonde oor hul aktiwiteite en sien veral uit na die bewaringsprojek wat hulle einde Julie saam met die Mabalingwe-natuurreservaat aanpak.

Die Pos het by dié formidabele vrou gaan inloer:

Vertel ’n bietjie van jouself:

Ek is oorspronklik van Kroonstad. Ek was in die bekende “blou skool”, Hoërskool Kroonstad, op die dorp. Die sanger Anton Goosen was in die “rooi skool”, die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad.

Ek het twee broers en twee stiefsusters gehad. My ma, Joey, is oorlede toe ek tien jaar oud was. Dit is toe ek my broers en ’n kombuis geërf het.

My pa Hannes was ’n ongelooflike mens. Hy was ’n ware heer en het ’n wonderlike lewenslus gehad.

Hy het altyd vir my gesê my gedrag moet só wees dat mense kan sien ek is ’n dame en dat ware dames nie by ’n bakleiery betrokke raak nie. As ek ’n kêrel aan hom voorgestel het, het hy hulle deeglik onder die vergrootglas geplaas. Hy het altyd gesê ’n man moet netjies wees en sy motor weerspieël wie hy werklik is. Duike in sy voertuig was taboe. As hy nie van die persoon gehou het nie, het hy onomwonde gesê: “Raak ontslae van hom.”

Wat het jy ná skool gedoen?

Ek het nie gaan studeer nie, maar as’t ware ’n graad aan die universiteit van die lewe behaal. Ek het by ’n bank begin werk, indiensopleiding ondergaan en in die finansieringsafdeling beland. Ek is getroud met Basie Wessels en ons het saam op ’n plaas buite Kroonstad geboer. Ons het drie pragtige kinders gehad. Hy was ’n man van die natuur en ek het so baie by hom geleer. Ons het albei ’n liefde vir diere gehad en natuurbewaring was hoog op sy prioriteitslys. Hy is jare gelede in ’n vliegongeluk dood.

Ek het my tweede man, Antonie Bodenstein, ontmoet en ons was baie gelukkig getroud. Hy was ’n ware heer en het my op die hande gedra. Hy was ook baie lief vir my kinders. Hy het ’n lang stryd teen diabetes gevoer en later aan kanker gesterf.

Hoewel ek “grondpad” gestap het, kan ek onomwonde sê ek was twee keer gelukkig getroud. Ek is bevoorreg om op Mabalingwe te woon en elke dag die natuur te ervaar.

Hoe lyk jou gesinslewe deesdae?

“My seun Hannes is ’n ontwikkelaar en argitek en gefokus op toerisme en natuurbewaring op Mabalingwe. My dogter Sandra is ’n musiekfundi. My jongste seun, Willem, is in 2002 in Mosambiek tydens ’n motorongeluk oorlede. Geen ouer moet hul kinders oorleef nie. Dit is werklik die ergste oproep wat jy kan kry. Die Here dra jou daardeur, maar jy vergeet nie maklik nie.

My kinders was baie “woelig”. Ek het hulle van dag een af aan die Here opgedra sodat Hy my kan help om hulle groot te maak. Ek is baie erg oor my vyf kleinkinders. ’n Kind moet beslis grense hê en jy as ouer moet dit vit hulle leer. My kinders kan baie goed na hulself kyk.

Hoe gaan dit by die VLU?

Ons het die VLU Mabalingwe-tak in Augustus 2018 gestig. Ek wou reeds van toe af wys dat die VLU nie net vir ouer vroue is nie, maar ook vir jong vroue wat nuwe talente en denke bring. Vroue het geen rede om in hul huise vasgevang te bly nie. Hulle kan by die VLU nuwe vriende maak en by elke lid ’n vaardigheid aanleer.

Ons tak het al wonderlike tye saam beleef en baie suksesvolle projekte aangebied. By dié tak laat ons geen afbrekende kritiek toe nie. Almal is gelyk.

Waarmee hou jy jouself besig?

Ek doen graag naaldwerk en beoefen kreatiewe stokperdjies wat ek meestal by die VLU geleer het. Ek is ’n kranige breier en is lief om in die kombuis te woel. Ek leer graag en is nuuskierig om items wat onklaar raak, self te herstel. My huis is georganiseerd behalwe vir my ateljee/ naaldwerkkamer. Daar is altyd projekte wat nog voltooi moet word.

Ek dink dit is deesdae belangriker as ooit om met mense empatie te hê. Ek hou daarvan om met mense te kuier en die ware persoon te ontdek. Soms het jy nie raad vir hul dilemmas nie, maar jy kan bemoedig en ondersteun en ’n ontvanklike oor wees. Dit is goud werd as jy mense kan ophef. Ek omring my met mense wat ’n positiewe gesindheid het en laat nie toe dat my lewensvreugde deur ander gesteel word nie.

Wat se raad het jy vir ander mense?

Leef in hoofletters, want die lewe gaan so vinnig verby. As jy nie moeg gaan slaap nie, het jy ’n dag vermors. Jy moet teruggee aan die lewe, want die lewe is ’n geskenk. Glo in jouself en glo in God.”

Mense hoef nie skatryk te wees nie; slegs gelukkig. Kies jou vriende só dat jy altyd by hulle kan leer. Vermy mense wat jou aftrek.

Skerpioene verander nie hul natuur nie, maar mense kan.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button