Local news

Skouer aan die wiel om dorp op te knap

Daar word fluks in Mookgophong gewerk om die dorp skoon te maak en om stoptekens op die teervlak weer sigbaar te maak.

“Ek is baie trots op inwoners wat help om die dorp op te hef. Daar is baie mense wat bereid is om skouer aan die wiel te sit en by talle projekte betrokke is,” het Marita Louw, Vryheidsfront Plus (VF Plus), wyksraadslid vir Wyk 5, gesê.

“Die Naboom-mark is ’n projek wat tot voordeel van die dorp en sy inwoners is en Aletha van Rensburg wat die stigter van die mark is, het baie bygedra tot gemeenskapsontwikkeling. Dan is daar ook verskeie sakeondernemings en privaat inwoners wat hul hande diep in die sakke steek om projekte te finansier. Dit sluit projekte in soos die opknapping van die banketsaal.”

Al die raadslede, insluitend die nuwe DA-raadslid Wynand Bekker, het elkeen ’n borgskap gegee om die stopstrate in die dorp ’n nuwe verflaag te gee. Toffie van Vuuren, Ben van Aswegen, Wellington Kokae en verkeerbeampte Trevor Webster het ook op Dinsdag 4 Julie die middelmanlyne op die brug na Roedtan geverf nadat daar byna ’n ongeluk was omdat die lyne nie meer sigbaar was nie.

Daar is ook 14 werkers van die Community Work Programme (CWP) in Wyk 5 aangestel wat van Maandae tot Donderdae sal help om die sentrale sakegebied op te ruim en skoon te maak.

Daar word weekliks ’n behoeftelys aan die toesighouer gestuur wat dan sorg dat die betrokke take uitgevoer word. Hulle het ook al begin met die aanlê van groentetuine by skole in Sektor 1.

Werkers het op Maandag 3 Julie ook begin om 4de Straat skoon te maak en op Woensdag 5 Julie en Donderdag 6 Julie kom 2de Straat en die area om die geskiedkundige lokomotief aan die beurt.

“Ek het ’n fantastiese wykskomitee wat hard werk om almal te mobiliseer en ’n verskil te maak. Almal is van verskillende politieke partye, maar saam is ons ’n wenspan en staan ons sterk,” het Louw gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button