Local news

Kieterkat hou sy lyf akrobaat

Die personeel van die Modimolle-internetdiens MEGS het op Woensdag 28 Junie tot die redding van ’n troeteldier gekom.

Jessica Bezuidenhout van MEGS vertel hulle is die oggend gekontak oor ’n gemmerkat wat bo-op ’n internetpaal vasgekeer was.

“Die kieterkat het glo ’n hele nag lank op die paal deurgebring. Een van ons tegnici se broer het die oggend gebel en gevra of ons dalk ’n lang leer beskikbaar het om by die kat uit te kom.”

Sy en haar man, Pieter (MEGS-bestuurder), het een van hul spanne uitgestuur. Die paal is nie deur MEGS opgerig nie, maar deur ’n ander internetverskaffer.

“Die hele gedoente was baie stresvol. Die kat was op die punt om van daar bo af te spring toe ons tegnikus naby hom kom. Die kat het na ’n ander paal binne ’n privaat erf gespring. Die probleem was daar was groot honde wat gewag het dat die kat ’n voet skeef sit en val.”

Die tegnikus het soos ’n wafferse akrobaat op die muur geklim, oorgeleun sonder om sy ewewig te verloor en die kat na veiligheid gebring.

Die kat het toe laat spaander.

Bezuidenhout sê dit is nie baie algemeen dat hulle op weerlose troeteldiere afkom nie, maar hulle vind gereeld voëls wat nes gemaak het bo-op hul infrastruktuur.

“Hierdie was eintlik ons eerste diere-reddingspoging. Ons sal dit enige tyd weer doen. Ons woon immers in die Bosveld en hier is alles moontlik,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button