Local news

Oud-landdros se bloed kan baie red

Om ’n held of heldin te wees, lê nie noodwendig in dramatiese reddingspogings soos op televisie en aksiebelaaide flieks nie, maar kan soms ’n eenvoudige handeling wees soos om bloed te skenk.

Die nasionale bloedoortappingsdiens het die afgelope week vir Dirk van der Westhuizen, ’n afgetrede landdros van Bela-Bela, uitgesonder as ’n held.

“Ek het in 1969 of 1970 vir die eerste keer begin om bloed te skenk en ek doen dit steeds. Volgens die bloedbank se statistiek het ek 281 keer en altesame 140,5 liter bloed geskenk,” vertel hy.

“Die menslike liggaam het slegs vyf liter bloed. As my somme korrek is, het ek 843 mense wat bloed nodig gehad het gehelp. Dit is juis lekker om te weet dat my skenking ’n persoon se lewe kon red, want vir elke punt bloed kan die bloeddiens ongeveer drie mense se lewens red.”

Van der Westhuizen is in 1939 gebore en het in 1957 in Aliwal Noord ’n landdros geword.

Dirk van der Westhuizen, oud-landdros van Bela-Bela, is deur die nasionale bloedoortappingsdiens vereer vir die 280 kere wat hy al bloed geskenk het.

Dorpe waar hy daarna as landdros gedien het, sluit in Brits, Ladybrand, Potchefstroom en Pretoria.

Hy het in 1988 die landdros van Bela-Bela (toe Warmbad) geword. Hy het in 1999 afgetree en geniet al 25 jaar sy aftrede.

“Ek het ’n lang pad in die justisie gestap en is dankbaar dat die Liewe Vader my met ’n goeie geheue geseën het. Ek is juis besig met ’n outobiografie, want as ’n bejaarde sterf, dan brand daar figuurlik gesproke ’n biblioteek af,” skerts hy.

“Ek het oor die jare gevind as jy gereeld bloedskenk, voel jy die volgende dag soos ’n nuwe mens met nuwe lewenskrag.”

Hy sê die twee NG-gemeentes in Bela-Bela bied gereeld bloedskenkklinieke aan en hy het dus nie nodig om ver te ry nie.

“Jy kry ten minste ’n koekie en ’n koeldrank elke keer as jy klaar geskenk het. Ek kan nie onthou hoeveel medaljes ek al deur die jare ontvang het nie. Die ironie is dat ek in die begin verskriklik bang was vir ’n naald.”

Related Articles

Back to top button