Local news

Nuwe era vir Die Pos ingelui

Die Pos spog van hierdie maand af met ’n nuwe eienaar.

Charmaine Lourens — wat sedert September verlede jaar die koerant se redakteur is — is vanaf Saterdag 1 Julie die vierde redakteur/eienaar sedert die koerant se ontstaan 41 jaar gelede.

Charmaine het met die ondertekening van die nodige dokumente die meerderheidsaandeel in Die Pos gekoop, wat die afgelope 22 jaar aan Keina Swart en Bea Emslie behoort het. Die Caxton-koerantgroep behou sy minderheidsbelang in die koerant.

Volgens Charmaine beoog sy om Die Pos se lesers steeds weekliks op hoogte te hou met kraakvars nuusgebeure wat almal raak. Dit is vir haar belangrik dat Die Pos sy lesers se nommer een leesgenot bly met ’n verskeidenheid nuusberigte in Afrikaans en Engels.

Charmaine Lourens, redakteur en nuwe eienaar van Die Pos.

Charmaine wil ook projekte aanpak soos die skoolkoerantkursus wat onlangs vir leerders by Hoërskool Warmbad gehou is. Sy sien uit om in Oktober die skool se koerant binne-in Die Pos te plaas en hoop nog skole sal met die koerant saamwerk om die projek uit te brei.

Sy beoog ook om die gemeenskap te betrek by ander inisiatiewe en nouer bande te smee met sakeondernemings en adverteerders.

Sy sê dit is nou haar taak om nuwe voetspore te trap langs die diep spore wat Keina en Bea agterlaat.

Charmaine is ’n ervare joernalis wat haar loopbaan in die joernalistiek in die tagtigerjare by Beeld begin het. Dit was in die tyd net voordat Apartheid afgeskaf is en sy was deel van ’n span joernaliste wat verslag gedoen het oor verskeie politieke protesoptredes, bomaanvalle en politieke verhore.

Sy was ook ’n spesialis-regsverslaggewer wat verslag gedoen het in die Hooggeregshof in Pretoria in verhore soos dié van die Wit Wolf (Barend Strydom), die Sharpeville Ses en die UDF-verhoor.

Haar loopbaan sluit onderhoude in met politici soos pres. Cyril Ramaphosa, oudpres. F.W. de Klerk en talle ander.

Die hoogtepunt was toe sy vir ’n dag lank in C-maksimum gevangenis deurgebring het en onderhoude gevoer het met van die terdoodveroordeelde gevangenes. Nog ’n interessante onderhoud was met ’n spioen wat vir die Nasionale Intelligensiediens gewerk het.

Charmaine het ook vir die berugte Gupta-broers in Midrand gewerk. Sy vertel haar kantoor was regoor dié van Athul en Ajay Gupta. Sy het in daardie tyd vir Essop Pahad, destydse minister in die presidensie van Thabo Mbeki, gehelp om die tydskrif The Thinker van die grond af te kry.

Vorige eienaars, Keina Swart en Bea Emslie.

Sy het ook voor haar aanstelling by Die Pos berig vanuit die appèlhof in Bloemfontein in die verhoor waarin oudpres. Jacob Zuma sou hoor of hy moet teruggaan tronk toe, al dan nie.
Benewens al die politieke beriggewing, was een van die lekkertes in haar loopbaan om na die Suidpool te vlieg saam met ’n groep joernaliste waar hulle vanuit die lug gekyk het na ’n sonsverduistering

Sy het dit geniet om reisjoernale te skryf en was verantwoordelik vir ’n reisbylae vir ’n nasionale dagblad. Dit het haar die geleentheid gegee om interessante plekke in die land te besoek.

Charmaine het ook deur die jare onderhoude gevoer met van ons land se bekendste sportsterre en kunstenaars.

Onderhoude waaroor sy berig het, sluit in die oud-Protea-krieketkaptein Graeme Smith, die Olimpiese goue medalje swemmer, Ryk Neethling, verskeie Springbokrugbyspelers en atlete, asook met Sepp Blatter, gewese president van die Internasionale Federasie van Sokker (FIFA).

Charmaine was voor haar aanstelling by Die Pos redakteur van die Bosveld Review in Mokopane. Dit was vir haar lekker om daar terug te ploeg wat sy as joernalis geleer het.

Sy is die ma van twee kinders, Lara (30) en Quinton (23). Lara is ’n aktrise, skrywer en vervaardiger van verskeie kykNET-films. Sy is ook ’n dosent aan die Performing Arts Lifestyle Institute (PALI) en rig die dramaleerders van verskillende skole in Pretoria en Johannesburg af.

Quinton volg in sy ma se voetspore. Hy het pas sy honneursgraad in Mediastudies voltooi en werk by Media24 in die uitsaaiwese waar hy onder meer die tekste skryf vir televisieprogramme soos Wie’s Nuus? met Netwerk24 op kykNET en Slim vang sy Baas op VIA.

Charmaine sê dankie vir Keina en Bea wat hul vertroue in haar plaas om Die Pos na nóg hoër hoogtes te neem Sy vat graag hande met Die Pos se adverteerders, lesers en al die sakeondernemings in Die Pos se lesersgebied.

“Ek is dankbaar vir die geleentheid en pak die uitdagings op my pad volstoom aan. Vir my is joernalistiek meer as net ’n passie — dit is deel van my DNS. Met my talente, toewyding en harde werk, tesame met genade van Bo, is ek gerat om Die Pos vir nóg 41 jaar jou betroubare bron vir vars gemeenskapsnuus te hou.”

Related Articles

Back to top button