Local news

Geslaagde boeredag in Roedtan gehou

Beesboere het van oral gekom om ’n insiggewende Bonsmara-boeredag in die Roedtan-omgewing by te woon.

Die Boeredag is op Vrydag 30 Junie deur Bonsmara Genetics op die plaas Smallepad aangebied.

Volgens Jannie Senekal, koördineerder van die twee kuddes wat Bonsmara Genetics verteenwoordig, was die bywoning baie goed en sowat 165 boere en belangstellendes het die dag meegemaak. Van die twee kuddes se diere is op die dag bespreek en hul produksieveiling vind later vanjaar op Smallepad plaas.

“Die doel van die dag was om kundigheid en kennis uit te ruil. Kommersiële boere en stoetboere dra die belang van hul diere op die hart. “Ons moet as boere met mekaar insig en kennis deel om die langtermyn toekoms van beesboere te verseker,” het Senekal aan Die Pos gesê.

Winsgewende beesboerdery was die tema van die dag en boere het geluister na verskeie kundige sprekers. Onderwerpe het ingesluit die bestuur en seleksie vir optimale winsgewendheid, die belangrike bydrae van genetiese verbetering en erfdwang in kuddes, strategiese voeraanvullings vir ’n winsgewende veeboerdery, asook metodes van genetiese verbetering vir vooruitgang van kuddes.

Een van die interessante besprekingspunte, wat groot vooruitgang in die stoetveebedryf toon, was dr. Hendrik Hansen van Embrio Plus/Alta Genetics ZA se onderwerp oor in-vitro bevrugting wat die verbetering van genetika in ’n verkorte tydperk in vergeleke met die konvensionele embrio- spoelingsproses van die verlede uitgestip het.

Louis Steyl, hoof- uitvoerende beampte van Bonsmara SA, het met die boere gesels oor die bestuur en seleksie vir optimale winsgewendheid en dr. Josef van Wyngaard, hoof- tegniese bestuurder by ’n bekende voermaatskappy, het aan boere verduidelik dat strategiese voedingsaanvullings noodsaaklik is om beesboerderye winsgewend te bedryf.

Arthur de Villiers van Arcadia Bonsmara het praktiese demonstrasies in die ring gelewer waartydens hy die bouvorm eienskappe van ’n aantal diere in verskillende ouderdomsgroepe bespreek en uitgelig het. Daar is veral klem gelê op funksionele doeltreffendheid en seleksievereistes wat deur die Bonsmara-ras toegepas word.

Vir meer inligting of enige navrae kontak vir Jannie Senekal by tel. 082 899 5047.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button