Local news

Die Pos het ‘n lang en mooi geskiedenis

Oor die jare was daar verskeie koerante wat in die omgewing verskyn het, maar nie een het lank staande gebly nie.

Toe dié beskeie koerantjie dus in 1982 sy verskyning maak, het baie mense in die gemeenskap vasgestaan en skouer aan die wiel gesit om “ons koerant” te laat werk. En hy wérk nog steeds — meer as vier dekades later.

Die koerant is op 8 Oktober 1982 deur Eugene en Nicola Diener gestig wat baanbrekerswerk gedoen het om ’n koerant vir die destydse Warmbad op die been te bring. Die Dieners het die koerant in Februarie 1991 aan wyle Danie Stolz verkoop. Danie was ’n sakeman en joernalis by uitstek en onder sy leiding het die koerant uitgebrei na ander dorpe, buite-kantore is geopen en hy het ook die koerant later self gedruk. Danie het Die Pos in 2001 aan Keina Swart en Bea Emslie verkoop. Albei van hulle was toe reeds gesoute redaksielede van Die Pos.

Die eerste uitgawe van Die Pos het op Vrydag 8 Oktober 1982 verskyn en net 15 sent gekos.

Onder dié twee vroue se leiding het die koerant gegroei tot een van die suksesvolste ondernemings in die Waterberg wat talle kere op nasionale vlak vereer is. Pryse op ons rakke sluit in verskeie pryse as beste gemeenskapskoerant in die land, beste opskrifte, beste voorblad, fotograaf van die jaar, beste kommentaar, treffendste advertensies en talle ander. Die Pos is ook al met ’n ATKV-Mediaveertjie bekroon as beste gemeenskapskoerant in die land.

Die Pos het in April 2017 ’n groot stap vorentoe geneem en werklik saam met die groot honde begin blaf toe hulle die Caxton-mediagroep as aandeelhouer verwelkom het.

Dit het oor die jare duidelik geblyk dat die koerant se hart in die gemeenskap lê, met personeellede se betrokkenheid op bestuursvlak by skoue en feeste, fondsinsamelings, skoolkomitees, sakekamers, liefdadigheidsorgansisasies, kerke en polisiëringsforums.

Bea en Keina het ook in hul tyd by Die Pos die hoogste toekenning in Rotariërkringe ontvang toe hulle aangewys is as Paul Harris-kandidate — mense wat die gemeenskap se belange bo hul eie stel en ’n wesenlike rol speel in die opheffing van hul gemeenskap.

  • Bea en Keina is albei steeds inwoners van Bela-Bela.

“Ons het die mooiste herinneringe aan Die Pos, maar ons albei wil in die toekoms so ’n bietjie op nuwe projekte fokus. Dit het tyd geword dat ons die leisels oorgee. Ons wens vir Charmaine en die personeel sterkte toe,” het hulle gesê. “Mag Die Pos altyd die kleintjie met die groot hart bly.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button