Local news

Stadspoort gee hul harte vir minderbevoorregtes

Vywilligers van die Stadspoortprojek sien al jare lank na die minderbevoorregte mense van Bela-Bela om.

Die groep het weer op Donderdag 8 Junie by die Hervormde Kerk talle mense met hul maandelikse hulpprogram bygestaan.

Ansu Strydom, Stadspoort-komiteelid, sê sedert die organisasie se ontstaan in 2011 sorg hulle vir gemiddeld 43 gesinne. Hulle bied ook hulp aan by twee plaaslike kleuterskole. Uit die sowat 200 behoeftiges is daar ongeveer 125 kinders wat deur Stadspoort bygestaan word met kospakkies en ander hulpmiddels. Groeplede het intussen ook die behoefte raakgesien vir snoesige matrassies vir van die jong kinders.

Christa Marx sê vrywilligers hou elke maand ’n verkoping buite Superspar in die dorp waar verskeie artikels soos tweedehandse klere, linne en huisware verkoop word om ’n inkomste te genereer. Dit vind gewoonlik elke eerste Vrydag van die maand plaas. Die geld word hoofsaaklik gebruik om kos vir behoeftiges te koop.

“Daar is ná elke verkoping klere wat oorbly en daarna in die stoor ophoop. Ons het dus besluit om van die materiaal te gebruik om matrasse te maak.”

Klerasie wat gevlek of geskeur word meestal hiervoor gebruik.

“Die Koesterkring-vroue van die NG Warmbad Wes-gemeente het in 2021 met die projek begin. Altesame 20 matrassies is daardie winter aan een kleuterskool geskenk. Verlede jaar het mense van so ver as Pretoria gehelp met die naaldwerk en is daar weer 20 matrasse gemaak. Dié matrasse is Donderdag uitgedeel.”

Die organisasie is dankbaar vir elke skenking en helpende hand. Hulle is baie dank verskuldig aan die Hervormde Kerk wat hul geriewe verlede week beskikbaar gestel het.

“Dit wat ons nie kan verkoop nie, word verwerk,” sê Marx.

Vir navrae kan mense vir Strydom ’n boodskap stuur na tel. 082 876 3698.

  • Stadspoort is ’n interkerklike organisasie.

Related Articles

Back to top button