Local news

Konstruksie by nuwe sentrum vorder fluks

Inwoners van Mookgophong sal moontlik nog tot Oktober 2023 moet wag voordat die nuwe Maroela Lifestyle-sentrum sy deure sal open.

Die aanvanklike datum was vir Junie 2023.

“Die baie reën het ons planne in die wiele gery, maar nou is ons weer volstoom aan die gang en ons behoort begin Oktober klaar te wees,” het die ontwikkelaar, Demetri Kyriacou, aan Die Pos gesê.

Die projek het op 5 Maart vanjaar afgeskop.

Die sentrum se geboue beslaan 5 090 m² oppervlak met 255 parkeerplekke.

Volgens Kyriacou is die ankerwinkel in die sentrum ’n bekende koswinkelgroep. Die ander winkels sal onder meer ’n apteek van ’n bekende winkelgroep insluit, selfoonwinkel, braairestaurant, drankwinkel, vis-en-skyfies-wegneemetes en ’n pizza-eetplek. Die sentrum sal ook kantoorruimte beskikbaar hê.

Hy is baie entoesiasties oor die uitbreiding en glo dat dit ’n waardevolle toevoeging tot sy tuisdorp sal wees en dat die sentrum tot voordeel van die inwoners sal wees.

Die sentrum word toegerus met sonkragpanele en sal onafhanklik van Eskomkragvoorsiening wees. Die sentrum het ook genoegsame watervoorsiening van hul eie.

Die sentrum is 1,2 km buite die sentrale sakekern op pad na Die Oog-aftreelandgoed.

Nog ontwikkelings in die dorp is ook onderweg, maar die ontwikkelaars wou nie nou nou al die aap uit die mou laat nie.

Related Articles

Back to top button