Local news

Dokter ry duisende kilo’s op trekker vir boere en kinders

Die gevaar van plaasaanvalle op boere en die behoefte van goeie mediese sorg vir jong kinders neem ernstig toe en was die primêre dryfveer vir ’n toegewyde dokter se projek.

Dr. Andre Hattingh, stigter van die Pediatric Care Africa-liefdadigheidsorganisasie, beoog om sowat 2 500 km per trekker af te lê.

Die On-Trac-Tor for charity-projek word vanjaar vir die tweede jaar gehou om geld in te samel vir kinders wat mediese behandeling benodig en vir bewusmaking teen plaasmoorde.

Hattingh beoog om die afstand oor 15 dae op ’n Mahindra-trekker af te lê en sal vyf provinsies tydens sy reis besoek. Die rit begin op Sondag 2 Julie in Witrivier en eindig weer daar. Die trekker is voorsien deur die Mahindra Mbombela-tak. Hattingh besoek ook Die Pos se lesersgebied en sal in Mokopane en Thabazimbi aandoen.

Sy organisasie het sedert 2017 gratis mediese dienste aan 6 797 pasiënte gebied waar 1 327 kinders toegang gekry het tot privaat geneeshere. Altesame 116 kinders het gratis operasies ondergaan wat deur die organisasie moontlik gemaak is.

Pediatric Care Africa is bewus van Suid-Afrikaners se persoonlike omstandighede en is bereid om te help, veral mense wat hul werk verloor en geen toegang tot privaat mediese dienste het nie.

Die organisasie word weekliks oorval met versoeke vir babakos en maak gereelde skenkings.

Die organisasie ondersteun die 911 Riders-motorfietsgroep wat elke jaar die land deurkruis in hul bewusmakingsveldtog teen plaasmoorde.

Hattingh sê dit is vir hom skokkend om elke keer die nuwe misdaadstatistiek te hoor en te ervaar dat die toename nie onrusbarend vir die is regering nie. Hattingh mik om ongeveer R250 000 in te samel en versoek mense om hul harte en beursies oop te maak vir ’n goeie saak.

Hy sê ter wille van die saak is hy bereid om die ongemak te verdra van 2 500 km teen die slakkepas van 26 km/h af te lê as dit ’n verskil kan maak.

Mense wat betrokke wil raak, kan ’n e-pos stuur na on-trac-tor@pediatriccareafrica.org of kan die organisasie tydens kantoorure bel by tel. 076 229 5663.

Hul webtuiste kan besoek word by www.pediatriccareafrica.org(.)

Hattingh beoog om op Maandag 3 Julie van Burgersfort na Mokopane te reis. Vandaar af ry hy op Dinsdag 4 Julie na Thabazimbi en op Woensdag 5 Julie van Thabazimbi na Koster.

Related Articles

Back to top button