Local news

Bekende afrigter se ma sterf ook

Gwen Cloete (67), jarelange inwoner van Bela-Bela en ma van die gewilde atletiekafrigter Van Reenen Cloete, is op Saterdag 17 Junie onverwags dood.

Van Reenen, sportafrigter by Hoërskool Warmbad, is in Oktober 2022 oorlede. Volgens Gwen se man, Johan, het haar gesondheid die laaste ses maande agteruit gegaan weens longemfiseem.

Hulle het die laaste paar weke in Rayton, buite Pretoria, gewoon.

Johan vertel sy vrou het gesukkel om Van Reenen se dood te verwerk en dit het waarskynlik bygedra tot haar agteruitgang.

Sy is voor haar dood in die Mamelodi-staatshospitaal opgeneem waar sy kort daarna gesterf het.

Cloete is in Bronkhorstspruit gebore en het haar skoolloopbaan daar voltooi.

Sy en Johan het hul 50ste huweliksherdenking op Vrydag 16 Junie, die dag voor haar dood, gevier.

Sy het 27 jaar lank by Enslin & Fourie Prokureurs in die dorp as datatikster gewerk. Sy het ook by Century 21 Eiendomme as aktetikster gewerk, vertel Johan.

“Ek sal haar onthou as ’n liefdevolle en omgee-mens. Sy was altyd bereid om te luister en was ’n spontane mens. Mense het altyd lekker gelag vir haar kwinkslae, maar kon ook by haar troos vind.”

Haar begrafnis word beplan vir eerskomende naweek, maar finale reëlings is teen druktyd nie bevestig nie.

Sy laat haar man, broer en skoonsuster agter.

Johan rig ’n spesiale bedanking aan Ettiene Fourie, Danie du Plessis, Koos en Trudie Brand en aan elke ander persoon wat bydraes tot hul gesin gelewer het ná sy vrou se skielike dood.

Related Articles

Back to top button