Local news

Reis saam met Marlene was vol onverwagte lekkertes

Sy was positief, energiek, ambisieus en hardwerkend en hierdie karaktertrekke was aansteeklik.

Hester van Zyl, vorige persoonlike assistent, skryf:

As kollega by Meetsetshehla Secondary School in Vaalwater was ek die “kantoortannie” en Marlene ’n onderwyser en joernalis.

As joernalis, het haar stories gereeld Die Pos se voorblad gehaal. Daarom sou sy menigmaal by my in die kantoor instorm en sê sy moet net vinnig uitgaan om ’n berig te doen. Sy was gewoonlik ’n vinnige werker en die hoof het nooit agtergekom dat sy vir ’n paar minute uit haar klas was nie.

Sy was ook my seun se dansmentor. Hy wou leer dans en ek het vir Marlene gevra, want sy het alles met oorgawe gedoen. Nadat sy my banke regop teen die sitkamermuur staan gemaak het om genoeg spasie vir ’n dansvloer te kry, het sy ná ’n dansles van vyf ure opgegee en laggend vir my gesê: “Hes, hierdie kind sal nooit kan dans nie. Hy het twee linkervoete!”

In my tyd as haar persoonlike assistent het ’n ongelooflike reis saam met Marlene begin. Ons moes ’n nuwe taal aanleer: Ons het nie geweet wat beteken woorde soos “indigent” of waarvoor staan SDBIP nie, maar met haar honger na kennis het sy dit gou onder die knie gekry.

Marlene was nie ’n hoogmoedige mens nie. Sommer baie gou het die publiek geweet om haar nie aan te spreek as die agbare burgemeester nie — sy was net Marlene.

Sy het haar min gesteur aan protokol, haar visie en missie was doodeenvoudig dit: Die werk moet gedoen word.

Sy was op haar gelukkigste as daar uurliks ’n afspraak in haar dagboek geskeduleer was — daar was nie tyd vir niksdoen nie.

Marlene het ’n oopdeurbeleid gehad wat beteken het daar was geen etenstye nie. Soms moes ek as ’n buffer optree en noodgedwonge haar kantoordeur toetrek sodat sy gou kon eet, 10 minute kon rus en lipstiffie aansit voor haar volgende afspraak.

Ek moet bieg, sy het my superfiks gehou. As sy ’n dokument nodig gehad het, was daar nie tyd om die persoon telefonies of per e-pos te verwittig nie. “Nee, Hes, jy moet self na sy kantoor toe gaan om die dokument te kry en jy wag daar tot jy dit kry. Moenie nee vir ’n antwoord aanvaar nie.” Dit was deel van my daaglikse roetine — gange en trappe op en af.

Sy was positief, energiek, ambisieus en hardwerkend en hierdie karaktertrekke was aansteeklik.

Sy was een van die min, indien nie die enigste burgemeester, wat geglo het die vere maak nie die voël nie. In haar geval: die voertuig maak nie die vrou nie. Sy het nie ’n groot, gerieflike voertuig (met blou ligte) gehad nie. Sy het etlike jare lank met ’n ou Isuzu-munisipale bakkie rondgery. Ek het menigmaal gevrees dat die bakkie haar êrens tussen Modimolle en Vaalwater in die steek gaan laat.

Ten spyte van baie uitdagings en spanning kan die tydperk wat ons saam by die munisipaliteit gewerk het, as ’n “joyride” beskryf word.

Ek het ook ingestaan as baba-oppasser, want kraamverlof het nie in haar woordeskat bestaan nie. Net soos met Luan het sy onmiddellik weer begin werk ná Dian se geboorte. Vir my, wat heimlik al begeer het om ’n ouma te wees, was dit heerlik om vir drie maande ook my rol as “werksouma” te vervul.

Ek wens ek het genoeg koerantspasie gehad om meer van ons ervaringe te kon deel.

Die moeilikste deel vir my is om nou ’n punt agter Marlene se naam te plaas.

Maar glo my, sy sal nie wil hê dat ons moet treur soos dié wat nie hoop het nie.

Marlene, dankie vir soveel mooi herinneringe wat ek in my hart gaan koester.

My gebed aan Hannes, Luan en Dian en haar ma en susters is dat ons Hemelse Vader julle die krag en vertroosting sal gee.

Tot weersiens, Marlene.

Related Articles

Back to top button