Local news

Nóg cholera-gevalle in Waterberg-omgewing aangemeld

Verskeie gerugte van cholera-gevalle in Die Pos se lesersgebied is die afgelope week ontvang.

Volgens bronne is gevalle wat positief getoets is in Northam, Bela-Bela, Thabazimbi en Modimolle aangemeld.

Foster Mohale, woordvoerder van die nasionale departement van gesondheid, het egter net een geval in die Waterberg, wat verlede week aangemeld is, bevestig. Hy het gesê dat daar slegs drie ander gevalle in Limpopo is wat deur ’n laboratorium bevestig is, naamlik twee gevalle in die Mopani-distrik en een in die Vhembe-distrik.

Cholera is ’n aanmeldbare siekte wat versprei word deur kos of water wat met die vibrio cholerae-bakterie besmet is. Drinkwater wat behoorlik behandel is, is veilig. Die kommer is egter dat die siekte oorgedra kan word wanneer inwoners water uit riviere drink of daarin swem.

Daar is reeds 31 sterftes aangemeld ná positiewe gevalle in Hammanskraal en tientalle mense wat behandeling in hospitale ontvang het.

Gevalle wat hier aangemeld word, mag moontlik hul oorsprong elders hê omdat mense van een gebied na ’n ander reis.

Limpopo se eerste cholera-geval is op Vrydag 26 Mei aangemeld nadat ’n 26-jarige Zimbabwiese man met erge diarree, naarheid en ontwatering in die Musina-hospitaal opgeneem is. Die geval is deur die NICD bevestig. Die man het herstel en is intussen ontslaan, het die provinsiale departement van gesondheid in ’n mediaverklaring gesê. Die departement het waarnemingspanne ontplooi om die situasie te moniteer.

Inwoners word aangemoedig om goeie higiëne toe te pas deur behandelde water te drink en gereeld hul hande te was.

“Die departement se reaksiespan is in die omgewing ontplooi om kontakopsporing te doen. Daar is geen rede vir mense om paniekerig te wees nie, maar hulle moet basiese higiëne toepas om verspreiding te voorkom,” het Mohale gesê.

Related Articles

Back to top button