Local news

Geloof en geesdrif anker dié dominee

"Om God te beleef, is ’n ding van elke dag. Dit is nie net ’n Sondag-ding nie."

“As ek my bril afhaal, is dit asof ek deur ’n glas kyk waar die water afloop soos reën. Bly ek langer sonder my bril, verloor ek my balans en begin duiselig voel.”

Só gesels ds. Otto Clasen, leraar van die NG Moedergemeente, in Bela-Bela oor die vreemde siekte wat sy lewe op sy kop gedraai het.

Clasen het die oggend van 29 September 2021 inmekaar gesak.

“Ons het nog buite kerk gehou weens die Covid-19-regulasies wat gegeld het. Ek het ná die voorval vir drie weke in die bed gelê met erge balans- en sigprobleme.”

Clasen vertel hy het vir ’n jaar lank talle dokters en spesialiste besoek en geeneen kon sy siektetoestand diagnoseer nie.

“’n Dokter in die Kaap het uiteindelik die fout gevind. Weens Vestibulêre Neuritus is die senuwee in my regteroor, wat verbind is met my linkeroog, permanent beskadig. Sommiges sê dit is weens die Covid-19- inenting, maar ons weet nie regtig nie.”

Clasen, wat in Augustus verlede jaar op vroeë pensioen gegaan het, sê dit is net genade dat hy nog hier betrokke is by die kerk en steeds in die pastoriehuis kan woon.

“Daar word nou gesoek na ’n jong, nuwe, dinamiese leraar. Ek sal nog hier wees om hom in die gemeente te lei en die gemeentekultuur oor te dra.”

Dan haal hy sy bril af en beduie:

“Dit is ’n prismabril wat spesiaal vir my ontwerp is. My linkeroog spring rond en ek kan nie behoorlik fokus nie. Saam met dié ongerief ly ek met tye aan geheueverlies. Ek sal gister met jou gepraat het en vandag nie jou naam ken nie. Ek kan partykeer nie onthou waar ek gister was nie. Dit is alles deel van hierdie siekte wat ek nou leer om mee saam te leef.”

Voorheen was hy energiek en kon lang ure werk. Nou is dit moeilik.

“Tien minute se leeswerk neem nou meer as ’n half uur. Ek moes boonop ontslae raak van my motorfiets. Ek het my lewe lank vinnige bikes gery, nou kan ek nie eens ’n fiets trap nie. Ek kan ook nie meer gaan duik nie, want ek kan só ’n aanval onder die water kry en wat dan?”

Ondanks sy siekte het die Bosveld diep in sy hart gekruip en was hy 14 jaar in Bela-Bela op die preekstoel. Hy sê hy het nog werk om hier te doen, hoewel hy nie daarvan hou om te lank op ’n plek te vertoef nie en nie daaraan glo om op ou spore terug te loop nie.

Buiten sy werk as leraar en lewenstylafrigter, ontdek hy en sy vrou al die afdraaipaaie wanneer hulle gaan kamp. ‘n Stuk van sy hart lê ook in die Kalahari-woestyn.

“Daar is dit ’n ander soort stilte ”

Wanneer hy vertel van sy opgroeijare, besef jy dié dominee se pad was nie altyd net maanskyn en rose nie. Hy het aan die Oos-Rand grootgeword en ná skool onderwys gaan studeer en ook sy honneursgraad verwerf. Dit was gedurende sy studentejare dat hy betrokke geraak het in die veiligheidsmagte. Dan bieg hy:

“Dit was ’n bad tyd in my lewe. Voorwaar ’n slegte tyd in ons land se geskiedenis. Ek was jonk, sterk en vol streke. Dit was die tyd voor Apartheid afgeskaf is.”

Hy het ná sy Weermagopleiding by ’n internasionale veiligheidsmaatskappy gaan werk, maar toe al die sanksies kom, het die maatskappy uit die land onttrek en het hy op sy eie in die veiligheidsbedryf gaan werk.

Hy wil nie veel hieroor uitwei nie, behalwe dat posttraumatiese stres deel van sy lewe geword het.

“Ek het vir ’n hele paar jaar deur hel gegaan. Ek was in- en uit hospitale; selfs onder verdowing en ’n gevaar vir myself en die mense om my. Ek wou niks van godsdiens weet nie.”

Dit was ds. Henry Horn, ’n leraar van Brakpan, wat oor sy pad gekom en hom gehelp het om by die Here uit te kom. Hy is terug onderwys toe daar aan die Oos-Rand, maar het gou besef dit is nie vir vir hom nie.

Clasen het toe teologie gaan studeer aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) en is daarna na Tukkies se kweekskool. Vandaar het hy sy eerste roeping na die NG Kerk in Strubenvale in Springs gekry waar hy 10 jaar lank in die bediening gestaan het voordat hy in Bela-Bela beland het.

Clasen sê hy het geleer om gemaklik te raak met wie hy is in die bediening. Hy het ’n verlede wat hy positief gebruik.

“Ek laat nie toe dat dit my aftrek nie. Dit was ’n leerskool wat my voorberei het om geloof as ’n leefwyse te hê.”

Hy vertel aan die anderkant van trauma lê ’n ervaring van ’n nuwe lewe.

“Om God te beleef, is ’n ding van elke dag. Dit is nie net ’n Sondag-ding nie. My lekkerste bidtyd was daar op my motorfiets of wanneer ek onder die water duik. Geloof word geleef in elke oomblik van elke dag.”

Clasen is ook ’n gekwalifiseerde leefstylafrigter wat in 2018 ’n praktyk in Pretoria geopen het.

“Ek help mense om hul denke te vernuwe. Dit is my passie om vir mense te wys hulle kan soveel meer wees as wat hulle dink. Ek gaan steeds aan met my praktyk en vorentoe sal my kerkwerk moontlik meer afskaal en ek kan die praktyk in Pretoria en ook hier aan die gang hou. Ek wil nooit ophou om ’n verskil te maak in mense se lewens nie.”

Hy het met groot sukses al baie sportlui gehelp — van Springbokrugbyspelers tot atlete en gholfspelers. Die meeste van hulle het beserings gehad en dan het hy hulle gehelp om weer hoogtes te bereik wat hulle nie kon dink moontlik is nie.

Hy vertel ook hy het nog altyd ’n groot liefde vir, en belangstelling in vuurwapens, skiet en jag gehad.

“Dit is baie opbouend en uitdagend — ’n mens kompeteer heeltyd teen jouself. Dit is iets wat ek kan doen en dit help my om te ontspan en te onthou dat die siekte my nie heeltemal oorwin nie. In die jagveld raak ek rustig en beleef God in die bos. En die biltong wat huis toe kom, is ’n groot bonus.”

Voor ons groet, sê hy:

“Ek wil nie eendag op my sterfbed lê en sê ek wou nog dit gedoen het nie. ’n Mens het net een lewe; leef dit nou.”

Related Articles

Back to top button