Local news

Totsiens, ‘Mayor Marlene’

“Hoe gaan ons haar ooit vervang?” is die vraag op talle inwoners se lippe.

Die nuus dat Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, oorlede is, het Waterberg-inwoners die afgelope week verslae gelaat.

Van Staden (42) is Donderdagoggend 8 Junie in die Mary Potter-onkologiesentrum in Groenkloof, Pretoria, dood nadat borskanker na haar breinvlies en rugmurg versprei het. Haar gesin was by haar.

Die huldeblyke wat vanuit alle oorde ingestroom het, skets ’n prentjie van ’n gemeenskap wat wyd agting vir Van Staden gehad het. Sy het die enigste DA-koalisie in Limpopo sedert 2016 bestuur. Ten spyte van die uitdagings om die verhoudings tussen die DA, EFF en Vryheidsfront Plus, asook die ANC-opposisie, in ’n munisipaliteit wat onder groot probleme gebuk gaan te handhaaf, is daar sedert Van Staden se herverkiesing in 2021 nooit ’n mosie van wantroue teen haar ingedien nie. Sy was ook een van die kandidate vir die DA se leiersposisie in Limpopo waar Lindy Wilson op Saterdag 27 Mei verkies is.

Die Pos se voorblad (Donderdag 15 Junie 2023)

Van Staden is verlede September met fase 4 borskanker gediagnoseer nadat sy in April ’n knop in haar bors ontdek het. Sy is aanvanklik aangeraai dat dit moontlik ’n vergrote klier ná die Covid-19-intenting kon wees, maar in Augustus het die knop vergroot en sy het sekondêre simptome ervaar. Ná haar diagnose in September het sy 16 sessies chemoterapie ontvang waarvan die laaste aan die einde van Februarie was.

Haar lang, donker hare het plek gemaak vir ’n pruik, maar min inwoners het geweet van die stille stryd wat sy gevoer het. Sy het ou-
dergewoonte haar werksverpligtinge nagekom.

Van Staden het vroeër aan Die Pos gesê dat sy nie die nuus van haar kanker bekend wou maak voordat haar alle toetse negatief is nie. “Ek wil nie hê mense moet moed verloor nie. Mense skrik as hulle die woord kanker hoor en hulle moet vertroue behou dat ons die munisipaliteit kan verbeter.” Sy het gesê dat sy positief getoets het vir ’n mutasie op BRCA-geen wat die risiko vir kanker verhoog.

Sy het einde Mei in ’n Facebook-plasing bekend gemaak dat sy ná haar kankerdiagnose ’n dubbele mastektomie en rekonstruksie in April gehad het, maar dat die toetse uiteindelik geen teken meer daarvan gewys het nie.

Van Staden is egter op Woensdag 17 Mei in die MediClinic in Polokwane opgeneem, nadat kollegas haar met erge hoofpyne hospitaal toe geneem het. Sy is daar met virale breinvliesontsteking gediagnoseer. Sy is twee weke later na die Mary Potter-onkologiesentrum in Groenkloof oorgeplaas waar dokters bevestig het dat die kanker na haar breinvlies en rugmurg versprei het. Haar gesin was deurentyd saam met haar by die hospitaal.

Van Staden was ’n leier uit eie bodem en het op Vaalwater grootgeword en aan Hoërskool Nylstroom gematrikuleer. Sy het saam met haar gesin op Vaalwater gewoon.

Sy laat haar man, Hannes, en twee jong seuns Luan (6) en Dian (2) agter, asook haar ma, Dalene Vermaak, en susters, Christie Vermaak en Adri Stoltz.

Haar roudiens vind op Vrydag 16 Junie om 11:00 by Castle de Wildt plaas.

  • Johan Prinsloo, VF Plus-raadslid dien as waarnemende burgemeester tot Van Staden se posisie gevul is. Sy is in 2021 as ’n proporsionele DA-raadslid verkies. Sy het die burgemeesterspos gekry ná die opskiet van ’n muntstuk omdat die drie samewerkende partye (DA, VF Plus en die EFF), asook die ANC, elk 14 van die 28 setels (selfs ná drie keer se stemmery) gekry het.

Die DA sal eersdaags die proses begin om ’n nuwe raadslid aan te stel, het Desireé van der Walt, DA-koukusleier in Limpopo, bevestig.

“In belang van goeie bestuur sal ons weer ’n DA-kandidaat as burgemeester voorstel,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button