Local news

Vragmotors bots op R101

Die R101-pad tussen Mookgophong en Mokopane moes Sondagoggend 4 Junie omstreeks 05:00 by die Tobias-afdraai gesluit word ná ’n botsing tussen twee swaargelaaide vragmotors.

Volgens ’n verkeersbeampte wat op die toneel was, het een van die vragmotors wat in ’n suidelike rigting gery het, na bewering oor die middellyn na regs geswenk en reg van voor teen die ander vragmotor gebots. Albei die bestuurders is op die toneel dood en die pad was ure lank vir verkeer gesluit.

Die polisie stel ondersoek in na die oorsaak van die ongeluk. Van die omstanders op die toneel het gesê dit wil voorkom asof die een bestuurder aan die slaap geraak het.

Twee motors het daarna teen die wrakke van die vragmotors gebots en vyf insittendes het geringe beserings opgedoen.

Een van die bestuurders is bekend as Foster Manjengwa van Harare in Zimbabwe. Die ander bestuurder se naam was teen druktyd nog nie bekend nie.

Die R101 staan reeds jare bekend as “Die pad van die dood” aangesien die lewensverlies as gevolg van ongelukke baie hoog is.

’n Woordvoerder van die Limpopo-verkeersdepartement, Trevor Webster, het ’n beroep gedoen op bestuurders om eerder stil te hou en te rus wanneer hulle moeg word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button