Local news

Twee ontwikkelaars het hul oë op dieselfde stuk grond

Twee verskillende ontwikkelaars het blykbaar hul oog op dieselfde stuk grond net buite Bela-Bela — die een wil ’n hospitaal bou en die ander ’n winkelsentrum.

Die Bela-Bela-munisipaliteit is die eienaar van dié stuk grond by die suidelike ingang van die dorp waar die Warmbad-skou destyds plaasgevind het.

Inwoners van Bela-Bela was versigtig optimisties toe hulle hoor dat ’n nuwe privaat hospitaal vir die dorp beplan word. Die sluiting van die Phodi Clinic is steeds ’n bron van kommer vir inwoners en daar is geen aanduidings dat die terrein weer vir ’n hospitaalontwikkeling gebruik sal word nie.

Die Pos het vroeër berig dat die maatskappy Excelling Kids ’n aansoek gebring het om drie hektaar by die ou skougronde van die Bela-Bela-munisipaliteit te huur vir die ontwikkeling van ’n hospitaal. Die spesifieke grond is gesoneer as landbougrond en is geregistreer as die oorblywende gedeelte van porsie 25 van die plaas Hetbad 465-KR. Intussen het dit aan die lig gekom dat nóg ’n maatksappy glo dieselfde stuk grond in die oog het om ’n sakesentrum daar op te rig.

Kabelo Phakwago van Geoenviro Services het die afgelope week by navraag aan Die Pos gesê dat hulle aansoek ingedien is, maar hy was nie bewus daarvan dat nog iemand in dieselfde stuk grond belangstel nie.

“Ons aansoek vir ’n kommersiële sakesentrum is wettig en gaan voort. Ons is in die proses om openbare kommentaar te vra wat ons aan die departement van ekonomiese ontwikkeling sal voorlê. Ons verwag om later vandeesmaand die finale impakstudie aan ons kliënt te stuur.” Hy wou nie sê wie sy “kliënt” is nie.

Volgens hom word daar beoog om ongeveer 530 ha te ontwikkel.

Peter Moloto, munisipale woordvoerder, het by navraag aan Die Pos gesê hierdie wending beteken nie dat die hospitaalaansoek van die baan is nie.

“Sover my kennis strek was daar ’n opvolgversoek deur die hospitaal se belegger om ander grondopsies in die omgewing te ondersoek. Die munisipaliteit steun hierdie aansoek. ’n Nuwe hospitaal is uiters noodsaaklik vir die dorp en moet ’n werklikheid word.”

  • Mense wat insae wil stuur aan Geoenviro rakende die sakesentrum kan dit rig deur ’n e-pos te stuur aan info@manggeoenviro.co.za(.)

Vir telefoniese navrae skakel tel. (012) 770 4022.

Related Articles

Back to top button