Local news

Planne sloer vir botaniese tuin

Planne vir die totstandkoming van ’n botaniese tuin in Bela-Bela sloer al maande lank en die bestuur kry die wind van voor met die sonering van grond, maar volgens die dorp se burgemeester is dié droom steeds moontlik.

Gloria Seleka, burgemeester, het op Vrydag 2 Junie in haar huldeblyk tydens die gedenkdiens van Johan Mills, DA-raadslid in die NG Warmbad Wes-gemeente, gesê die munisipaliteit oorweeg dit steeds baie sterk om die botaniese tuin te ontwikkel. Sy het gesê indien die tuin tot stand kom, sal dit as nagedagtenis vir Mills dien wat baanbrekerswerk gedoen het om die botaniese tuin te vestig.

Die botaniese tuin was Mills se groot droom. Hy het die leisels aan Arnaud le Roux oorhandig toe hy as raadslid verkies is en nie meer so baie tyd aan die projek kon bestee nie.

Daar het verlede jaar groot opgewondenheid onder inwoners van Bela-Bela geheers oor beplanning van dié tuin toe Seleka en die munisipale bestuurder, George Ramagaga, hul steun aan die projek gegee het.

Hulle het die beoogde stuk grond saam met die bestuurkomitee besoek. Dié stuk grond staan bekend as gedeelte 25 en is direk langs die Alma-pad. Dit grens aan die Renaissance-aftreeoord en huise in Huilboslaan.

“Ons het in ’n doodloopstraat geëindig met die hersonering,” vertel Arnaud le Roux, voorsitter van die botaniese tuinprojek. “Ek was ’n hele paar keer by die munisipale beplanningskantoor waar amptenare aan my gesê het dat die grond blykbaar geoormerk is vir behuising en dat hulle nie van die nasionale ruimtelike ontwikkelingsplan wil afwyk nie.”

Hy is egter van mening dat dit steeds moontlik is om die gebied as ’n groensone te verklaar wat dan beskerming sal geniet in terme van die nasionale en provinsiale omgewings- en bestuurswet.

Die Pos het die nuutste geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) van die munisipaliteit onder oë gehad en daarop word aangedui dat die grond vir behuising oorweeg word.

“Ons ervaar min ondersteuning van die munisipaliteit af, maar ons is in die proses om ’n privaat persoon te gebruik wat namens ons die aansoek vir hersonering kan rig,” sê Le Roux. “Ons het tot op datum alles denkbaar gedoen om dit ’n werklikheid te maak, maar ons benodig nou dringend ondersteuning.”

Die idee het reeds in 2020, tydens die Covid-19-pandemie, ontstaan. Die vestiging van ’n botaniese tuin sal die dorp se status as ’n erkende toeristebestemming bevorder.

Related Articles

Back to top button