Local news

Dié ‘lyfprentjies’ is kunswerke op hul eie

Die kuns van tatoeërmerke neem ook die platteland toe.

Daar is wisselende emosies by mense wanneer ’n kunswerk op twee bene by hulle verbystap.

Ja, dit is die kuns van tatoeërwerke wat selfs in die platteland toeneem.

Die Pos het uit nuuskierigheid by Natasha Joubert (22), ’n tatoeërkunstenaar van Red Tiger Tattoos in Bela-Bela, gaan aanklop om meer van dié kunsvorm te leer.

Twee van Joubert se gunstelingkunswerke (bo en onder) waaroor sy en haar kliënte gek was.

Vertel ’n bietjie van jouself.

Ek is oorspronklik van Pretoria-Noord en het saam met my ma, Genevé, in 2020 na Bela-Bela verhuis. Ek het in 2019 my opleiding ontvang by die bekende tatoeërkunstenaar Schalk Fourie by Inksane SA.

Die keuring is soortgelyk aan dié van ’n kunsskool. Voordat jy toegelaat word, vereis hulle ’n portefeulje met van jou kunswerk. As jy nie kan teken nie, staan jy nie ’n kans om by hulle opleiding te kan ontvang nie.

Ek het ’n jaar opleiding gekry. Ek het baie vinnig geleer dat jy ook in dié beroep beuselagtige takies moet verrig en as jy die mark wil betree, moet jy jouself motiveer om alles van dié bedryf te leer.

Watter mediese voorsorg word getref?

Die wet verplig ons om ons winkels higiënies te hou en ons werkstasies moet steriel wees. Ná elke sessie spuit ek antibakteriese skoonmaakmiddels oor my werkstasie. Ek moet handskoene dra. Die naalde wat ons gebruik, moet in ’n spesiale houer geplaas word en word weekliks deur ’n geakkrediteerde maatskappy wat met mediese afval werk, afgehaal.

Elke kliënt teken ’n vrywaringsvorm voordat ons begin. Kunstenaars ontvang ook opleiding oor bloedoordraagbare patogene en hoe siektes versprei kan word. Dit is vir ons belangrik dat ons kliënte beskerm word.

Alle kliënte wat voorgeskrewe chroniese medikasie gebruik, moet my daaroor inlig. As iemand op medikasie is wat hul bloed verdun, kan dit noodlottige gevolge hê as die kunstenaar dit nie vooraf weet nie, maar dit is nie te sê hulle kan nie ’n kunswerk kry nie. Dit beteken net ons moet nog beter voorsorg tref. Ons is ook baie gesteld op persoonlike higiëne. ’n Persoon wat hulself nie versorg nie, sal nie die tatoe versorg nie en dit kan bydra tot ’n kunswerk wat nie na wense genees nie. Mense wat onder die invloed van drank en dwelms is, word ook gevra om later terug te kom wanneer hul nugter is.

Die versorging van ’n nuwe tatoe is baie belangrik. Sekere voorskrifte soos te veel son, verkeerde velprodukte of vuil water is ononderhandelbaar. Die nasorg is net so belangrik as die kunstenaar se voorbereiding en talent.

Hoe verskil teken op papier teenoor ’n mens se vel?

Dit is heeltemal verskillend. In die eerste plek lê papier doodstil! Met ’n mens werk jy op ’n ronding of uit ’n hoekpunt as gevolg van hul liggaamsbou en jy moet in gedagte hou dat elke mens se vel anders is. Mense kriewel onwillekeurig as jy hulle met ’n naald oor en oor inkleur. Dit verg dus baie geduld. Jy moet ook die vermoë hê om jou kliënt rustig en op hul gemak te laat voel.

Is tatoes meer simbolies of word dit gedoen vir die gier daar agter?

Elke tatoe het ’n betekenis. Kliënte vra graag vir tatoes van hul geliefdes of mense wat gesterf het. In sommige gevalle wil mense wys dat hulle ’n swaar lewenspad gestap het. Ander hou net van ’n ontwerp en word letterlik ’n kunsgalery op twee bene. Hulle is tegnies kunsversamelaars.

Wat is jou gunstelingstyl?

My kunsstyl is realisme in kleur en portrette. Ek is baie mal oor diere en skets dit graag. Dit gebeur ook baie dat mense my nader om ou tatoeëermerke wat lelik geword het, met ’n nuwe een te vervang.

Wat was jou gunstelingtatoe wat jy al gedoen het?

My gunstelinge sover was ’n unieke uil, ’n Pegasus-perd en wilde diere. Die langste wat ek aaneen gewerk het, was meer as 12 ure, maar ek is nogal presies in die uitvoering van my kunswerk. Elke persoon moet uitstap met ’n unieke tatoe waarop hulle trots kan wees. Ek saai soms my sessies regstreeks aanlyn uit op Tiktok.

Hoeveel tatoes het jy self?

Ek het geen idee nie. Ek het telling verloor. Ek dink daar is ongeveer 25. Ek kan wel my eerste tatoe onthou. My ma, Genevé, en ek was in Durban en ons albei het die datum van my 16de verjaardag op ons lywe getatoeëer — 16 Junie 2016.

Ek het ’n baie mooi maanmot op my bors laat tatoeër. Vir my beteken dit simbolies dat ek my doelwitte in die lewe bereik en aanhou streef om nog beter te doen. Ek was as kind mal oor insekte. Ek het ook twee unieke troeteldiere in my winkel — Lilith die slang en Stoffel die Tarantula-spinnekop.”

Hoe voel dit om ’n tatoe te kry?

Dit is soos om ys vir ’n lang ruk vas te hou. Ek wys vooraf vir kliënte ’n kaart met die menslike liggaam op en verduidelik watter dele meer sensitief is en waar die pyndrumpel hoër is — soos die vel op jou ribbekas. Nuwe kliënte moet vooraf baie goed slaap en genoeg water drink. Tydens die sessies help dit as hulle koeldrank drink of iets soets eet vir energie.”

Put jy vervulling uit hierdie werk?

Ek wou sedert ek agt jaar oud was ’n tatoe-kunstenaar word. Die ergste straf wat ek kon kry, was as my ma my kunsmateriaal van my af weggevat het as ek stout was. Ek onthou my een Afrikaanse onderwyser het my toegelaat om op die skooltafels te skets, met die ooreenkoms dat ek dit ná die tyd skoonmaak. Selfs my klasmaats het my betaal om vir hulle iets te teken. As ek ophou teken, voel ek ’n leemte. Ek put baie vreugde daaruit as iemand spontaan glimlag en opgewonde is as hulle die voltooide tattoe sien. Hulle waardering maak dit deur en deur die moeite werd.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button