Local news

Blymoedige Claudette sê totsiens

Vriende en familie van Claudette Findlay (27) het haar gegroet ná haar vyf jaarlange stryd teen kanker.

Findlay is in April 2018 met akute limfoblastiese leukemia gediagnoseer terwyl sy as au pair in Amerika gewerk het. Dié lewenslustige jong vrou het menige inwoner na aan die hart gelê en hulle het haar en haar familie se fondsinsameling wyd ondersteun.

“Claudette, haar familie en vriende het bly glo en geleef asof sy gesond gaan word,” het haar tannie, Estie van der Walt, gesê. “Haar ma, Annemarie Findlay, het haar versorg in die tye wanneer dit swaar gegaan het en het haar vlerke gegee om haar droom as spysenier uit te leef wanneer dit goed gegaan het. Claudette was passievol en briljant in wat sy gedoen het. Haar spore lê baie diep in ons harte,” het sy gesê.

Haar familie sê dat sy tot op haar laaste minuut blymoedig was en nooit gekla het nie. Sy het haar Christenskap uitgeleef deur diensbaar te wees vir elkeen wat haar pad kruis en het altyd getuig van God se genade.

Claudette en haar gesin het blokkies fudge verkoop om die koste van die duur kankerbehandeling te help dek. Estie sê die familie wil voortgaan met die fudge-projek en die geld aanwend om ander inwoners wat geld nodig het vir mediese behandeling te help. Die fudge sal steeds by al die verspreiders beskikbaar wees.

’n Diens om haar lewe te vier, word op Vrydag 9 Junie om 11:00 by Castle de Wildt gehou.

Sy laat haar ma Annemarie Findlay, Samantha (suster) en Joggie Prinsloo, James Findlay (broer), Nandi Schoeman (tannie), Estie (tannie) en Willa van der Walt en oupa en ouma Boet en Hattie du Preez agter.

Related Articles

Back to top button