Local news

Kanker kán oorwin word, sê dié lesers

Kanker. Dit is ’n woord wat mens deesdae gereeld hoor. Die Pos het gaan aanklop by inwoners wat met die siekte gediagnoseer is en jare later steeds voluit lewe en groot bydrae maak tot die samelewing, al is kanker steeds deel van hul lewe.

Daar is een diagnose wat almal vrees: kanker.

Dit is egter nie die doodsvonnis wat baie mense gelate aanvaar as die einde nie. Die Pos het met ’n verpleegkundige en inwoners van Modimolle gesels wat kanker oorwin het.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het onlangs bekend gemaak dat sy kankervry is nadat sy verlede jaar met aggressiewe borskanker gediagnoseer is.

Volgens Wilna van den Heever, ’n verpleegkundige van die kankervereniging (Kansa) in Modimolle, is onkunde oor wat die pad met kanker behels een van die groot redes vir mense se vrees. Sy het soveel stories te vertel van pasiënte wat kanker oorwin het.

Van den Heever behartig wondsorg, borsondersoeke, papsmere, bloedtoetse vir prostaatkanker, moesie-ondersoeke en gee goeie raad wat spruit uit jare se ervaring. Indien sy iets verdag opspoor, verwys sy pasiënte na hul huisdokters wat op hul beurt spesialishulp inwin. Sy verhuur ook hospitaalbeddens, kommodes, rolstoele en ander mediese toerusting wat pasiënte se lewens help vergemaklik terwyl hulle die genesingspad met kanker stap.

“Kennis bring rustigheid vir mense wat onlangs met kanker gediagnoseer is en baie bekommerd is oor hoe hulle hierdie uitdaging moet hanteer. Al die inligting wat ’n mens kry, is oorweldigend. Die mediese wetenskap het so ongelooflik gevorder en behandelings het baie verbeter,” het sy gesê.

Kanker is ’n siekte waar van die liggaam se selle onbeheerst bly groei en gewone selle vernietig. Dit kan na ander dele van die liggaam versprei. Kanker is die tweede grootste oorsaak van sterftes wêreldwyd, maar danksy vroeë opsporing, beter behandeling en voorkoming het die oorlewingsyfer vir talle tipes kanker die afgelope paar jaar drasties gestyg.

“Moenie uit vrees stilbly of in ontkenning leef nie. Vra vir raad by ’n dokter of by ’n suster,” raai Van den Heever inwoners aan. “Dit gebeur baie keer dat iets wat verdag lyk, nie kanker is nie. Indien dit wel is, tree vroeg op en dan is die behandeling minder ingrypend.”

Van den Heever moedig inwoners aan om na hulself om te sien.

“Ons lewenswyse speel ’n groot rol in ons kanse om kanker te kry. Vermy ongesonde gewoontes soos te veel drank, son, rook en ’n passiewe leefstyl. Maak seker dat jy die regte voeding kry en bly weg van gifstowwe af.”

Kansa bied telefoniese beradingsdienste aan by tel. 0800 22 66 22 of kontak counselling@cansa.org.za(.)


Die Pos het met inwoners gesels wat jare later voluit lewe nadat hulle met kanker gediagnoseer is:

Doria Groenewald.

Doria Groenewald, beheeraanklaer by die Modimolle-streekhof:

Groenewald vertel dat sy vanjaar reeds nege jaar lank die pad met kanker stap. Haar siekte is tans stabiel (nie in remissie nie) en sy ontvang geen behandeling nie, maar bloedtoetse word elke drie maande geneem om die siekte te moniteer.

“Die eerste tekens dat iets fout was, was my gewigstoename en ’n geswelde buik. Ek het gedink ek word vet ná my troue! Ek was besig om te oefen vir ’n driekampbyeenkoms en kon nie die bulte opkom nie. Tydens my roetine-ondersoek het my ginekoloog bloedtoetse aangevra, onder meer ’n toets vir ovariale kanker. Ek dink hierdie toets moet definitief ’n gereelde bloedtoets wees wat vroue jaarliks kry,” meen sy.

Ná haar diagnose in 2014 op 42-jarige ouderdom, is sy verwys na ’n onkoloog wat besluit het om onmiddellik te opereer om gewasse te verwyder. Ses weke later het sy met chemoterapie begin wat suksesvol was. In 2016 is daar weer gewasse ontdek en behandel, waarna sy vier jaar lank in remissie was. In 2020 is sy weer gediagnoseer nadat sy kliere gehad het wat geswel het en is weer deur ’n reeks drastiese chemoterapie.

Groenewald sê dat navorsing haar grootste hulp was. “Ek het alles probeer uitvind van my tipe kanker, diëet om chemoterapie beter te hanteer, oefening om sterk te word en weerstand te kan bied sodat chemoterapie my nie so aftakel nie. Die ondersteuning van my man, kinders en ouers was van onskatbare waarde. Hulle het my positief gehou en aan die lewe gehou,” het sy gesê.

“Ek was nie voorbereid vir die groot operasie en lang hersteltyd nie. Die haarverlies was vir my baie traumaties. Met die hulp van goeie vriendinne het ek ’n pruik gekoop wat baie soos my eie hare gelyk het. Ek was baie dankbaar daarvoor.”

Sy sê hoewel sy baie siek gevoel het ná die chemoterapie en nie daarop voorbereid was nie, weet sy dat dit noodsaaklik was om gesond te word.

Groenewald sit egter nie stil nie en put die beste uit haar lewe. Sy floreer in ’n uitdagende beroep, oefen baie getrou en bring gehaltetyd saam met haar gesin deur.

“Ek is volgens die dokters nie vry van kanker nie, maar dit is stabiel en groei nie. Die tumormerker word dopgehou om enige aktiewe selle op te tel.”

Pieter Strydom.

Pieter Strydom, makelaar in Modimolle:

“Elkeen van ons hanteer hierdie siekte anders en elkeen reageer verskillend op terapie.”

Pieter Strydom is ses jaar gelede met prostaatkanker gediagnoseer nadat sy huisdokter onraad vermoed het tydens ’n roetine-ondersoek wat deur sy mediese fonds vereis word.

“Ons is baie dankbaar dat ek vir daardie ondersoek was, want ek was geensins siek en het geen simptome ervaar nie,” het hy vertel. Hy was toe 59 jaar oud.

Hy vertel dat hy gelukkig genoeg was om nie pyn te ervaar nie en het min newe-effekte van die chemoterapie ervaar. Sy kanker was aggressief en het vinnig versprei.

“Dit het my eers ’n week ná die diagnose gevang toe ek van my afsprake moes begin kanselleer weens die chemoterapie. Die diagnose was vir my vrou, Theresa, ’n baie groot skok. Sy het lank daarmee geworstel. Elkeen in ons gesin, ook ons drie kinders, het die skok op ons eie manier hanteer. Van ons het stil geraak, ander het kort-kort gebel. Theresa het by ’n dieetkundige aangeklop om uit te vind hoe sy my diëet vir hierdie spesifieke kanker moet aan pas.”

Een van die uitdagings is dat mense jou oorval met goedbedoelde raad en van hul eie ervaringe vertel.

“Ons het gesien dat wat vir een werk, dalk glad nie vir die volgende persoon geld nie. Die groot hoeveelhede inligting is oorweldigend.” “Een van die moeilike dinge was dat mense elke keer vra hoe dit met jou gesondheid gaan? Ek het van die standpunt uitgegaan: dit gaan goed met my, ek het net kanker.”

Sy raad aan ander is: “Maak vrede daarmee; al is dit baie swaar. Maak ook sommer vrede met God. Aanvaar dit, begin met jou behandeling en kry klaar. Moenie net gaan stilsit nie. Bly besig en gaan voort met jou lewe. Dit het vir my gewerk om steeds kantoor toe gaan tussen die chemoterapie deur, al moes ek smiddae vir ’n ruk gaan slaap om weer energie te hê.”

Hy slaan sy arm om Theresa.

“Ons het deur hierdie hele ondervinding besef hoe lief ons regtig vir mekaar is. Ook hoe ons familie en vriende oor ons voel. Elke Vrydagmiddag gaan drink ons saam koffie om seker te maak ons bring gehaltetyd met mekaar deur.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button