Local news

Bela-Bela groet staatmaker Mills

Sy kennis van wêreldpolitiek was verstommend.

Die Bela-Bela-gemeenskap het op Saterdag 27 Mei met skok verneem van die dood van Johan Mills (75), ’n bekende politikus en staatmaker van die gemeenskap, in ’n Polokwane-hospitaal.

Mills was ten tyde van sy dood ’n DA-raadslid wat op die Bela-Bela-munisipaliteit se uitvoerende komitee gedien het. Hy het ook Bela-Bela by die Waterberg-distrikmunisipaliteit verteenwoordig.

Mills was die afgelope jaar in en uit die hospitaal nadat hy probleme met sy gesondheid ervaar het, hoewel hy voortgegaan het met sy werksaamhede by die munisipaliteit. Hy het verlede week ’n operasie ondergaan en komplikasies daarna het sy lewe gekos, het sy vrou, Vera, gesê. Volgens sy gesin het Mills baie vinnig in sy roetine teruggeval ná elke mediese terugslag. Hy was baie gesteld op sy werk en het uitgestaan as ’n leier in die gemeenskap.

Mills het wyd gelees en het ’n belangstelling gehad in plaaslike gebeure, maar was ook betrokke by internasionale aangeleenthede. Sy kennis van wêreldpolitiek was verstommend.

Sy gesin vertel dat hy sy doopnaam, Nico, wettig verander het na Johan. Hulle sê dat daar baie Johan’e in die Mills-familie is en dit bring groot verwarring en vermaak tydens familie-saamtrekke.
Hy is in 1948 in Vereeniging gebore en het in die Transkei gematrikuleer.

Na skool het hy sy graad in die regte aan die Universiteit van Pretoria voltooi en by die staatsdiens ingeskakel.

Hy was vir ’n tyd by die Suid-Afrikaanse ambassade in Taiwan betrokke.

Mills het ook in die Midde-Ooste sy kundigheid gebruik en sakebelange in die vervoerbedryf opgebou. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy ’n party-organiseerder van die Nasionale Party (NP) geword. Hy het in 1996 as adjunk-direkteur van die NP uitgetree.

Hy het ook ’n groot passie vir boerdery gehad.

Mills en sy gesin het deeltyds met tamaties en mielies geboer op ’n plaas agter die Tsakane-nedersetting.

“Hy was nog altyd in sy hart ’n politikus en was voorsitter van die plaaslike AfriForum-tak, die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF) en is in 2021 as DA-raadslid verkies. Ek weet hy het baie respek gehad vir die huidige burgemeester, Gloria Seleka.”

Mills was veral bekend vir sy deeglike verslae en ondersoekwerk waarmee hy die owerhede tot verantwoording geroep het. Hy was die dryfveer om ’n botaniese tuin in die dorp te vestig en was ook ’n gereelde gesig by die Bela-Bela-polisie se maandelikse landelike veiligheidsvergadering.

Vera vertel dit het hom maklik geïrriteer as onthale, etes, en vergaderings nie deeglik beplan was en stiptelik verloop het nie.

“Hy was baie lief vir potjiekos maak. Hy het al vroeg die oggend begin met voorbereidings en alles was presies georden soos hy dit sou nodig hê om ’n voortreflike ete te berei,” vertel sy dogter, Bernice.

Sy gesin wens dat hulle meer tyd gebruik het om sy kostelike staaltjies en ervarings neer te pen. Hy was spitsvondig en het sy verhale altyd met humor ingekleur.

Johan was ’n familie-man by uitstek en was baie trots op sy kinders en kleinkinders.

Sy gedenkdiens is op Vrydag 2 Junie om 11:00 in die NG Warmbad Wes-gemeente waar daar kort geleentheid vir huldeblyke sal wees.

Hy laat sy vrou, Vera, sy kinders — Johan, Bernice, Liza, Antonette — en sy suster Cecil Greeff agter. Hy was die
trotse oupa van vier kleinkinders.

  •  Die Pos bring saam hulde aan Johan vir etlike jare se gereelde en insiggewende bydraes wat hy vir die koerant gelewer het. Sy insae was hoogs gewaardeer.

Related Articles

Back to top button