Local news

Mookgophong-vroue hekel en brei dat penne flits

Die hekelpenne het behoorlik geklap op Vrydag 26 Mei en Saterdag 27 Mei toe die flinke VLU-vroue van Mookgophong die wol en penne opgeneem het.

Die lede van die VLU-Naboomspruittak het meegedoen aan die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniginge (ATKV) se Arendsnes-tak en “Maak-’n-Verskil-Hekelgroep” se projek om vir 30 ure ’n hekelmarathon te hou en dan die gehekelde blokke te gebruik om komberse te maak vir minder bevoorregte persone.

Die vroue het reeds vroegoggend by Die Byekorf in Die Oog-aftreelandgoed bymekaargekom en gesellig gekuier terwyl hul nie minder as 2158 blokkies van 20 x 20 cm gehekel en gebrei het.

Wendy Engelbrecht, voorsitter van die VLU Naboomspruittak het op haar eie 304 blokke gehekel.

Die blokke is na Deneysville gestuur waar 36 van hierdie blokke aanmekaar gehekel gaan word om ’n kombers te vorm.

Daar was geen voorgeskrewe reëls oor kleur nie en dit was ’n kaleidoskoop van kleur in Die Byekorf. Hoe bonter, hoe mooier.

Daar is letterlik van die Kaap tot in Limpopo aan die hekelprojek deelgeneem. Volgens die organiseerders is daar landswyd 70 805 blokke gehekel.

“Ons het sommer lekker saam gekuier, worsbroodjies geëet en Saterdag teepartytjie gehou. Baie dankie aan die Venter-familie wat ons geborg en ondersteun het,” het Engelbrecht gesê.

Related Articles

Back to top button