Local news

DA krap nou kop oor Bela-Bela-leierskap

Die onverwagse dood van Johan Mills, DA-raadslid van Bela-Bela, laat die DA in dié dorp in ’n benarde posisie.

Mills was sedert November 2021 die proporsionele DA-raadslid in die Bela-Bela-munisipaliteit. Hy het ook op die munisipale uitvoerende komitee gedien en het die munisipaliteit by die Waterberg-distriksmunisipaliteit verteenwoordig.

Mills is die vyfde swaargewig in die DA-kamp wat onlangs vakatures in dié party laat ontstaan het.

“Sy dood het ons diep getref. Hy was ’n staatmaker wat selfs die onlangse DA-federale kongres bygewoon,” het Lindy Wilson, die nuwe DA-leier in Limpopo, aan Die Pos gesê. “Ons is hartseer oor sy dood en nou bevind ons onsself boonop in ’n moeilike posisie waar ons geen ander keuse het as om hom met ’n geskikte kandidaat te vervang nie.”

Tinus Ras het ook in Julie 2022 as wyksraadslid bedank weens gesondheidsredes en na die Wes-Kaap verhuis, nes sy kollega Kobus van der Merwe wat onomwonde een van die knapste DA-
raadslede is wat Bela-Bela nóg gehad het.

Nóg ’n DA-lid, Rachel Masemola, is in 2021 aan Covid-19 oorlede. Sy is opgevolg deur Rika Kruger, wat vroeër vanjaar uit die bloute bedank het as DA-raadslid en die dorp intussen verlaat het.

Jeedee Cloete van die VF Plus het vir groot opskudding gesorg toe hy in ’n verrassende wending in November 2022 se tussenverkiesing as die dorp se heel eerste VF-Plus-raadslid ooit verkies is.

Wilson sê die munisipaliteit moet nou Mills se pos as vakant verklaar.

“Daar sal geen tussenverkiesing gehou word nie. Ons het reeds die DA se federale raad ingelig oor die situasie en sal oor ’n paar dae die aansoekproses oopstel vir voornemende kandidate om vir die pos aansoek te doen. Dit moet iemand wees wat die party en die belange van die gemeenskap verder sal uitdra.”

Sy sê omdat voornemende kandidate oor ’n deeglike kennis van munisipale sake moet beskik, is dit nie so eenvoudig om op kort kennisgewing ’n geskikte kandidaat te kry nie.

“Indien ons vind dat die kandidate nie geskik is vir die werk nie, sal ons spesifieke mense in die gemeenskap nader vir die pos. Die pos behoort eksklusief aan die DA en kan onder geen omstandighede aan enige ander party oorgedra of gewen word nie,” sê Wilson.

Die DA hoop om binne ses weke ’n geskikte kandidaat te hê wat bereid en toegewyd sal wees om Mills se werk oor te neem, sê Wilson.

Related Articles

Back to top button