Local news

Demensielyers baat by babapoppe

Poppe en sagte speelgoed is nie net vir kinders nie.

Net soos wat talle volwassenes groot genot daaruit put om poppe te maak of te versamel, kan dié speelgoed tot voordeel van demensielyers gebruik word.

Demensie kom soos ’n skelm in die nag en steel bietjie vir bietjie ’n mens se vaardighede, gedagtes en jou vermoë om onafhanklik te leef. Selfs die slimste en bekwaamste mense spring dit nie noodwendig vry nie.

Volgens inligting van die Alzheimers-vereniging is dit veral ouer mense wat aan hierdie siekte ly — ’n koepelterm vir siektes soos alzheimers en ander toestande wat inmeng met denkprosesse en geheueverlies tot gevolg het.

Die Nylstroomse Vrouelandbou-unie (VLU) het onlangs ’n babapop, volledig met klere en bedjie wat deur hul lede gemaak is, aan die Kokanje-aftreeoord geskenk. Die pop kan water uit ’n bottel drink en daarna die doek natmaak. Die pop word vir terapeutiese doeleindes gebruik. Die oord het enkele inwoners in hul versorgingseenheid wat verskillende fases van demensie het. ’n Groep vrywilligers in die oord besoek hierdie inwoners daagliks om hulle geselskap te hou en te stimuleer om verstandelike agteruitgang te vertraag.

“Ons kan week na week ’n verskil in die inwoners sien wanneer ons baie aandag gee,” sê Denise Prinsloo, een van die inwoners wat gereeld besoeke aflê. “’n Mens kan nie net sit en die dae by jou verby laat gaan nie. Ons bou legkaarte, het boute en moere wat ons in mekaar draai en kleur in — alles om hul fyn motoriese vaardighede te oefen. Van die inwoners verloor daardie fyn handbewegings en dit bemoeilik sake wanneer hulle wil aantrek of eet.”

Sy vertel dat die inwoners ook verveeld raak en nie elke keer dieselfde aktiwiteite wil doen nie.

Demensielyers raak dikwels angstig en onrustig. Dit is hier waar die babapoppe hul werk doen. Die “baba” kan ’n kalmerende effek hê wanneer die demensielyer as “versorger” optree en aantrek en skoonmaak of help om hul aandag af te trek wanneer hul versorgers die lyer wil aantrek of kos gee. Die fyn bewegings om klere oor die arms of bene van die pop te trek, oefen ook hul hande.

Verskeie studies dui aan dat “popterapie” oftewel “doll therapy” demensielyers kalmeer en hul geestestoestand lig. Hulle vermoë om te kommunikeer het ook verbeter.

“Een van die inwoners het onmiddellik gesê sy wil niks met die ‘baba’ te doen hê nie. Die ander inwoners was so gretig en het dadelik die pop opgetel en met hulle begin gesels asof hulle regte klein kindertjies is,” het Prinsloo vertel. “Van die inwoners kan nie gebeure onthou wat onlangs plaasgevind het nie, maar kan in fyn besonderhede dinge onthou wat jare gelede gebeur het.”

Die einste babapoppe mag dalk net ’n deur na herinnerings in die verlede oopmaak wat die inwoner se hart sal verbly.

“Ek het nooit gedink dat ek by so ’n projek betrokke sou raak nie. Die mense kruip in jou hart en lig jou eie gemoed met hul eerlike opmerkings. Hulle doen op hul beurt soveel vir elkeen van ons wat by hulle gaan kuier,” sê sy.

Die tuin voor die versorgingseenheid word vol helder blomme geplant en die inwoners geniet dit om buite te sit en na die natuurgeluide te luister.

Daar word na demensie verwys as die “lang afskeid”. Die babapoppe en omgee-harte van mede-inwoners mag die ligpunte in daardie afskeid wees wat die soet oomblikke meer maak.

Related Articles

Back to top button