Local news

Meule wag angstig op antwoorde

Die toekoms van die bekende Brenner Meule in Bela-Bela is steeds in die gedrang nadat die meule in Februarie vanjaar aangedui het hulle kan nie langer as Mei wag vir verligting op hul kragtariewe nie.

“Ons betaal steeds deur ons nekke en wag angstig op antwoorde van die Bela-Bela-munisipaliteit,” het ’n woordvoerder van Brenner Meule se hoofkantoor by navraag gesê.

Die meule het in 2022 aangedui dat hulle dit oorweeg om hul deure te sluit omdat hulle nie korrek vir hul munisipale kragverbruik belas word nie. Meer as 70 permanente werkers staar werkloosheid in die gesig as die meule sluit.

Die Pos het vroeër berig dat die meule op ’n vaste bedrag (piektarief) vir hul kragverbruik aangeslaan word. Hierdie heffings word gewoonlik tydens wintertydperke vir munisipale verbruikers ingestel wanneer die verbruik hoër raak as wat die munisipaliteit kan verskaf.

Johan Mills, DA-raadslid, het vroeër aan die munisipale raad gesê dit kos die Bela-Bela-meule dubbel soveel om een ton graan te prosesseer as by enige van hul ander meulens. Volgens hom word die meule nie korrek in terme van die industriële heffingsraamwerk vir krag aangeslaan nie.

Die gevolg is dat die winslyn baie klein raak en nie volhoubaar is nie. Dit sal tot gevolg hê dat die meule sy deure moet sluit.

Die laaste vergadering tussen die bestuur van die meule en die munisipaliteit was in Desember 2022. Daar was sedertdien nog geen terugvoering of kommunikasie met die munisipaliteit nie, het die woordvoerder gesê.

“Ons probeer hard van bestuur se kant om die situasie te beredder, maar toe kom beurtkrag wat ons nog verdere hoofbrekens besorg. Ons het ons produksie reeds afgeskaal, maar ons moet binne die volgende paar weke ’n gewaarborgde antwoord van die munisipaliteit kry.”

Peter Moloto, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die munisipaliteit sal waarskynlik in Junie ’n spesiale raadsvergadering hou om uitstaande sake, soos die Brenner Meule-geval, te bespreek en ’n uitweg vir die probleme te soek.

“Die raad is tans ten volle gefokus op die dorp se begroting. Ek het die meule se saak met die hooffinansiëlebeampte, Melvin Marutha, opgeneem, maar sy kontrak het verstryk en hy is nie meer op kantoor nie. Dit vertraag sake, maar ons hoop dat dié situasie tydens die spesiale vergadering uitgesorteer kan word.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button