Local news

Hondekind veilig tuis danksy vinnige veiligheidswagte

Mauser, ’n sesjarige Duitse korthaar-pointer, het die afgelope week ’n aksiebelaaide oggend beleef terwyl sy eienaar niksvermoedend vergaderings in Pretoria bygewoon het.

’n Wakker inwoner het hom van ’n onsekere lot gered.

“Ek was in my voertuig net buite die sentrum toe ek die groep jong manne met die hond raaksien. Die hond het ’n tou om die nek gehad en dit het nie gelyk asof hy aan hulle behoort nie,” het Sonja Beukes, bestuurder van die ModiMall, aan Die Pos vertel.

Sy het rondgebel vir hulp, maar toe sy nie dadelik reaksie kon kry nie, het sy die winkelsentrum se veiligheidsdienste geskakel.

“Drie wagte het dadelik gereageer, maar toe hulle by die sentrum se dienshek uitkom, het hulle die groep met die hond net in die verte gesien. Hulle het besluit om die hond en die jong manne in te hardloop.”

Die jong manne het gou besef die wagte is op hul spoor. Ná bykans ’n kilometer se hardloop teen die bult agter die sentrum, het hulle die hond laat los en gevlug. Die wagte kon ’n uit-
asem Mauser gevang kry en tot bedaring bring.

“Hy was doodmoeg en baie dors. Hy het sommer sulke groot slukke water geneem,” het Beukes vertel.

Nadat Mauser by die Nylstroom-dierekliniek afgelaai is totdat sy eienaar opgespoor is, het Beukes saam met die drie helde, Sello Nyelenda, Jonas Selumi en Johannes Chabalala eers ’n glasie koeldrank in die kantoor gaan klink om die sukses te vier. “Ek het altyd geweet die dag gaan kom wanneer ek moet optree, en ek hét,” het Chabalala ná die jaagtog deur die bosse gesê.

Mauser se eienaar, Eugene Pearton, vertel toe sy vergadering verdaag het, was daar meer as 20 boodskappe en oproepe op sy selfoon van mense wat na hom gesoek het.

“Ek is nie seker of die jong manne Mauser uit die erf gaan haal het en of hy uitgekom en rondgeloop het nie,” het Pearton gesê.

Hy woon naby die Koro Creek-gholflandgoed. Mauser is volgens hom ’n vriendelike hond met ’n joviale geaardheid. Hy is verlig dat sy hond weer veilig tuis is.

Cheryl Oosthuysen van die Modimolle Animal Welfare Centre (Mawec) sê hulle kry al hoe meer voorvalle van honde wat by erwe uitkom omdat motorhekke nie heeltemal toemaak gedurende beurtkrag nie.

“Mense besef nie die erns van die probleem nie. Misdadigers teiken deesdae honde. Honde word gesteel en verkoop vir so min as R20 en dan vir jaghonde gebruik. Sommiges word gebruik as aas in hondegevegte. Maak asseblief baie seker dat jou hond nie uit die erf kan uitkom nie.”

Halsbande met die eienaar se kontakbesonderhede op en ’n mikroskyfie help ook indien die diere weer gevind word.

Related Articles

Back to top button