Local news

Reënbuie verras Bosveld-inwoners

Die heerlike reënbuie het Bosvelders die afgelope twee weke onkant gevang.

Volgens Ben Greeff, ’n inwoner van Modimolle wat jare lank reeds reënval meet, het daar vanjaar gedurende Mei reeds 48 mm reën geval. In die voorafgaande drie jaar het hy geen reën vir Mei aangeteken nie.

Volgens Floris Booysen, voorsitter van die Potgietersrus-distrikslandbou-unie, behoort daar nie ’n te groot invloed op boerderye te wees nie.

“Boere wat sorghum, grondboontjies en katoen plant, kon dalk skade gehad het, maar hier op die Springbokvlakte het ek nie van boere gehoor wat skade gely het nie. Die boere wat sonneblom, sorghum en katoen wil oes, is met sowat twee weke teruggesit,” het hy gesê.

Daar het plek-plek hael op die vlakte geval.

“Die voordeel is dat ons nie hoef vuur te slaan nie en dat die veld danksy die vog vroeg in die nuwe seisoen sal uitloop vir weiding.”

Van die sonneblomboere het weens ’n droë seisoen eers laat geplant en kan deur die buiteseisoenale reën benadeel word.

Dorpsbewoners is dit eens dat hulle dankbaar is dat hul grasperke langer groen gaan bly, maar dit is beslis nou tyd om hul wintersklere uit te haal.

Related Articles

Back to top button