Local news

Só laat flinke VLU-vroue die hekelpenne flits

Die lede van die Vroue Landbou-unie (VLU) Naboomspruit-tak in Mookgophong het te hore gekom van die ATKV Arendsnes-tak en “Maak ’n Verskil Hekel-groep” se projek om 30 ure lank ’n hekelmarathon te hou en daar en dan besluit die vroue van Mookgophong wil ’n bydrae lewer tot die projek.

Alle deelnemers hekel blokkies op hul eie wat gedurende die marathon oor twee dae aanmekaar gelas sal word om komberse te vorm. As deel van ’n winterwarm-projek sal die komberse aan behoeftige mense en instansies uitgedeel word.

“Ons wil ’n VLU/ Die Oog-bydrae maak en die twee dae lank hekel. Die Naboomspruit-tak se vroue sal op 26 en 27 Mei om 09:00 in Die Byekorf in Die Oog-aftreelandgoed bymekaar kom en elke dag tot 17:00 hekel,” het Wendy Engelbrecht, voorsitter van die tak, gesê.

Volgens haar is daar reeds verskeie vroue wat begin hekel en brei het vir dié projek.

Die blokkies word almal ewe groot gehekel in ’n verskeidenheid van kleure en enigeen is welkom om te hekel en hul blokkies aan die VLU te stuur. Elke blokkie moet 20 cm x 20 cm groot wees en in die “granny patch-blokke”-patroon gehekel word met ’n nommer vier hekelpen in dubbeldraad wol.

Altesame 36 van die blokke sal een kombers vorm.

“Ons nooi almal uit om die twee dae saam met ons te hekel, kuier en koffie te geniet. Ons het vyf mense wat van Denysville af kom vir die naweek om saam te hekel. Dit is ’n landswye projek wat uit sy nate bars. Almal is welkom om te kom hekel,” het Engelbrecht aan Die Pos gesê.

Mense kan haar ook kontak om toegang by die hek te reël.

Die vroue by Die Oog het al meer as 250 blokkies gehekel en is volstoom besig met nog. Engelbrecht het ook al meer as 200 blokke ontvang van ander mense wat hul blokkies kom aflewer het.

“Die blink idee van ’n hekelmarathon het in die ATKV Arendsnes-tak begin waar die oudste lid 86 jaar oud is. Ons is een groot laslappiekombers — verskillende persoonlikhede en verskillende patrone, gemaklik deur ons eie kultuur saamgebind,” sê Monique Brink, takvoorsitter.

Bel vir Wendy Engelbrecht vir meer inligting by tel. 074 893 9618.

Besoek die webwerf van Arendsnes ATKV by https://www.facebook.com/ArendsnesATKV/

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button