Local news

Nuwe planne vir Salus Oord

Die Bela-Bela-munisipaliteit het groot planne vir die verwaarsloosde Salus Oord in die dorp.

Die munisipaliteit het tydens hul raadsvergadering op Woensdag 26 April bekendgemaak dat die raad die lae-inkomste behuising by Salus Oord wil uitbrei.

Volgens die amptelike raadsdokument is die stygende werkloosheidskoers, bevolkingsgroei en die feit dat derduisende mense nie kwalifiseer vir huise uit die herontwikkeling- en ontwikkelingsprogram (HOP) nie, die rede waarom daar dringend aandag geskenk moet word aan behuising.

Die munisipaliteit beoog om twee gedeeltes — die oorblywende deel van Erf 655 (125821 ha) en porsie drie van Erf 655 (1,9 ha) saam te voeg. Die twee stukke grond behoort aan die munisipaliteit en sluit Salus Oord en die openbare werke-perseel in.

Salus Oord is eintlik veronderstel om ’n maatskaplike behuisingsprojek te wees, maar gerugte doen al jare lank die ronde dat munisipale werkers, wat heel skaflike salarisse verdien, op die terrein woon.

Dié woongebied is tydens die vorige bedeling spesifiek ontwikkel om behoeftige en bejaarde mense wat onafhanklik kon funksioneer van ’n heenkome te voorsien. Van die oorspronklike inwoners wat nog daar woon, is steeds in besit van geldige kontrakte met die munisipaliteit.

Die munisipaliteit voer aan dat die geboue by Salus Oord gevaarlik is en nie meer geskik is vir mense om in te woon nie. Om dié rede is daar glo nou besluit om die omgewing te herontwikkel.

Die dokument lui voorts dat die departement van openbare werke hul huidige perseel sal moet ontruim.

Die munisipaliteit het ’n aansoek aan die departement van koöperatiewe regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta) gestuur om die projek goed te keur en te befonds.

Die munisipaliteit sal dan ’n inkomste uit die nuwe behuisingsprojek verdien deur bekostigbare verblyf aan inwoners te verhuur, lui die dokument.

Hulpbehoewende inwoners (indigents) word jaarliks van grondbelasting gevrywaar. Hulle ontvang gratis vullisverwydering en ontvang 50 kWh krag en 6 kilo liter water per maand.

Leana Ipland van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), asook Wyk 1-komiteelid, sê dit is ’n baie welkome vooruitsig. Die SAVF is een van die plaaslike organisasies wat weekliks behoeftige inwoners bystaan en van kos voorsien.

“Ek glo nie almal wat tans in Salus Oord woon, is hulpbehoewend nie. Sommige inwoners het ’n vaste betrekking en is op die oog af nie mense wat werklik swaarkry nie,” sê sy. “Dit sal ’n moeilike proses wees om die kriteria vir elke inwoner te bepaal indien die projek realiseer, maar dit is ’n feit dat plaaslike inwoners ’n plek van veiligheid nodig het.”

Daar is nog geen aanduiding hoeveel huise goedgekeur sal word nie.

Die Pos het Peter Moloto, munisipale woordvoerder, gekontak vir kommentaar, maar teen druktyd nog geen terugvoering ontvang nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button