Local news

Lee droom om weer te loop

Ná 22 jaar in ’n rolstoel, hoop Lee Smith van Modimolle om binnekort weer te loop.

Nuwe behandeling bring hierdie 40-jarige se jarelange droom binne reikafstand.

“Dr. Hennie van Wyk van Witrivier behandel pasiënte met stamselterapie en het groot sukses daarmee.”

Smith het gesê: “Hy glo dat ek ’n ideale kandidaat vir suksesvolle behandeling is.”

Die terapie herstel beskadigde weefsel aan die rugmurg.

Smith, met sy breë skouers en sjarmante manier, is ’n bekende in Modimolle. Sport was nog altyd vir hom ’n groot liefde, en selfs nadat hy as jong man verlam is, het hy in verskeie sportsoorte uitgeblink.

Hy is enkele dae voor sy agttiende verjaardag tydens ’n rooftog in sy bed geskiet. Die koeël is deur sy arm, long en het sy rugmurg skrams getref. Dokters was skepties dat hy sou oorleef, wat nog te sê van weer kan loop.

“Ek was platgeslaan. Ek het 30 kg in daardie tyd in die hospitaal verloor en my droom om verder rugby te speel, was aan skerwe.”

Smith, wat op skool losskakel gespeel het, het kort voor die ongeluk deurgedring na die tweede ronde van die proewe vir die Luiperds.

Sy verlamming kon hom nie weghou van sport nie en nadat hy deur die ergste trauma gewerk het, het hy weer begin deelneem. Hy het Springbokkleure in rolstoelgewigstoot, -spiesgooi en -diskus verwerf en provinsiale kleure in rolstoelbasketbal. Sy 2017-rekord by die paralimpiese wêreldarmdrukkampioenskap in Bulgarye in die “strict arm curl”-kategorie deur 75 kg te lig, staan steeds.

Sy eie moeilike pad het hom voorberei om as lewensafrigter vir ander mense op te tree en hy gee ook berading.

“Ek werk met mense wat self in rolstoele beland het, trauma ervaar het, gemolesteer is of deur egskeidings gaan,” het Smith gesê.

Hy besoek ook diegene wat in rolstoele is om hul huise te help aanpas sodat dit vir hulle gemakliker is. By sy tuisgimnasium help hy mense met hul beserings en om fiks te word. Hy het die Lee Smith Foundation for the Disabled gestig om geld in te samel wat hy onder meer aanwend om rolstoele te koop vir mense wat dit benodig.

“Net die gedagte om weer te kan loop en op die gras te kan staan, maak my opgewonde. Ek dink nie eens daaraan om te kan hardloop of ’n bal te skop nie.”

Sy vrou, Landi, sê sy sien uit daarna om haar arms om sy nek te slaan. Smith lag “Ek is eintlik baie langer as wat sy is. As ek staan, pas sy onder my arm.

“Ons besef dit gaan ’n lang pad wees om weer ten volle te herstel en ek werk daaraan om my kop reg te kry vir die uitdaging.”

Smith het reeds baie vordering gemaak. Hy het meer gevoel in sy bene en kry dit reg om in ’n loopraam sy een voet voor die ander neer te sit (video).

“My bene kan egter geen gewig dra nie, omdat die beendigtheid min is.”

Die behandeling geskied in drie sessies wat elk R65 000 beloop. Smith beplan om geld in te samel om die terapie te bekostig. Inwoners wat hom wil help om sy droom te verwesenlik, kan hom bel by tel. 067 009 8848.

Related Articles

Back to top button