Local news

Danksy skenking kan kinders lekker slaap

Dertig inwoners van die Abraham Kriel-kinderhuis kan hierdie winter uitsien na ’n lekker nagrus.

Dit is nadat die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA) se Kokanje-tak 30 splinternuwe matrasse geskenk het.

Hierdie skenking is ’n groot geskenk, aangesien die kinderhuis 170 inwoners het en die beddens deurgelê raak. Daar is nie altyd geld beskikbaar om dit te vervang nie.

Volgens Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, het die VSA Kokanje-tak die kinderhuis verlede jaar benoem om in aanmerking te kom vir ’n donasie.

Gedurende April vanjaar het die VSA se hoofkantoor in Polokwane die 30 matrasse by die kinderhuis kom aflaai.

“Hierdie donasie van VSA maak dit vir ons kinders moontlik om ’n heerlike nagrus te geniet sodat hulle gedurende die dag hul beste kan gee. Ons is afhanklik van die gemeenskap se ondersteuning sodat ons vir ons kinders die beste geleenthede kan bied. Baie dankie aan Jakkie van Dyk, voorsitter van die Kokanje-tak, wat die kinderhuis benoem het,” het Van der Merwe gesê.

  • Die kinderhuis vier Jeugdag op Vrydag 16 Junie saam met verskeie gemeentes wat by die kinderhuis betrokke is. Hulle beplan ’n groot basaar wat vir oud en jonk iets sal bied. Daar sal verskeie kos- en ander stalletjies wees. Pieter Labuschagne sal musiek maak en die aand word ’n mandjiedans gehou.Inwoners wat wil uitstal of navrae het, kan vir Van der Merwe bel by tel. 082 410 2635.

Related Articles

Back to top button