Local news

Snip-snip vir diere in Vaalwater

Diereliefhebbers en vrywilligers het ingespring om 185 honde en katte binne twee dae in die Leseding-woongebied buite Vaalwater te steriliseer.

’n Hond of kat kan gemiddeld twee werpsels per jaar hê. Indien elke werpsel vyf kleintjies het, bestaan die moontlikheid dat 1 850 meer diere in die eerste jaar gebore word en versorg moet word, reken dié groep vrywilligers.

Veeartse, mense wat aan omgewingsprojekte werk, besoekers, sakelui, vrywilligers en inwoners het op Sondag 30 April ingespring om hierdie groot taak aan te pak.

Volgens Luzanne Katz het haar dogter, Kimberleah, tydens die Covid-19-pandemie betrokke geraak by troeteldiereienaars in Leseding toe van hulle vir hulp gevra het.

Omdat hulle sonder inkomste was, kon hulle nie hul diere versorg nie. Sy het besef dat daar ’n groot behoefte bestaan om hul troeteldiere te laat steriliseer.

’n Groep vrywilligers het begin om katte by die Zebra-gebou te steriliseer. Hierdie projek het uitgebrei toe hulle begin het om honde te bad, dip en basiese gesondheidsorgondersoeke by die Built It-gebou te doen.

“Mense het ingestroom en ons is naderhand twee keer per maand Leseding toe om te help. Mense van Vaalwater het ook in lang rye gestaan en wag,” het Katz gesê.

Hulle het kos uitgedeel, halsbande vervang en leibande, harnasse, komberse en bedjies aan die diere se eienaars uitgedeel. Die diere is ook ontwurm om inwendige parasiete te behandel en dié wat mediese hulp nodig gehad het, is veearts toe geneem.

“Die diere is oor die algemeen in ’n goeie toestand omdat ons al twee jaar lank betrokke is en die diere behandel. Een van ons grootste doelwitte is opvoeding. Ons verduidelik aan elke kind wat opdaag hoe hulle hul diere moet versorg. Ons probeer om elke keer ’n kospakkie saam huis toe te stuur. Ons is baie afhanklik van ons gemeenskap om ons te help,” het sy gesê.

Die inwoners van Leseding en Vaalwater was baie opgewonde oor die sterilisasie-projek. Van die 185 diere wat gesteriliseer is, was 18 katte.

“Altesame 13 veeartse en veeartsenykundige studente het ons gehelp om hierdie droom te laat realiseer. Teen Sondagmiddag 15:00 moes ons ongelukkig mense begin wegwys,” het sy gesê.

“Hierdie was ’n goeie voorbeeld van organisasies wat saamwerk tot voordeel van die gemeenskap. Sonder elkeen van die rolspelers se hulp sou ons dit nie kon vermag nie.”

Related Articles

Back to top button