Local news

Covid-19-gevolge kan steeds pla, hoor Dameskring

Covid-19 is verby, maar die nadraai daarvan beïnvloed steeds talle mense.

Die Dameskring se Olientak in Modimolle is tydens hul onlangse vergadering toegespreek deur Bianca Vogt wat insiggewend gesels het oor die langtermyn neurologiese gevolge van Covid-19.

Vogt is getroud met ds. Ernest Vogt van die Gereformeerde Kerk Vaalwater. Sy is tans besig met haar doktorsgraad in eko-toksikologie by die Universiteit van Noordwes (NWU). Haar doktorale tesis handel oor die eko-toksologiese gevaar van farmaseutiese middels in Suid-Afrikaanse watersisteme (spesifiek antiretrovirale middels wat teen HIV/Vigs gebruik word).

“Ek het die inligting spesiaal bymekaar gemaak vir die Dameskring se Olientak met die hoop om lede in te lig oor die nuutste bevindinge,” het Vogt gesê.

Sy het aan die vroue vertel dat ’n nuwe studie, wat in die joernaal “Nature Medicine” gepubliseer is, bevind het dat Covid-19 infeksies ’n verhoogde risiko vir verskeie neurologiese probleme kan veroorsaak. Dit kan langer as ’n jaar ná die infeksie voortduur. Die studie het na meer as 155 000 Covid-19-positiewe gevalle gekyk.

“’n Gemiddelde risiko van 42% vir Covid-19-positiewe individue is gevind met ’n verhoogde las van 7% vir neurologiese afwykings,” het sy gesê.

Hierdie afwykings sluit in beroertes, kognitiewe- en geheueversteurings, senustelsel-, bewegings-, geestesgesondheids-, muskuloskeletale-, sensoriese versteurings en Guillian-Barré sindroom.

Volgens Vogt beklemtoon hierdie bevindinge hoe belangrik dit is om diegene wat Covid-19 gehad het op die langtermyn te moniteer vir neurologiese gevolge.

“Die post-pandemie gevolge sal afhang van ons vermoë om die gevare te reguleer, te verlaag en gebruik te maak van geleenthede,” het sy gesê.

Die Dameskring is ’n kultuur-organisasie wat elke maand vergader en interessante onderwerpe bespreek. Vir meer inligting, skakel tel. 076 117 2976.

Related Articles

Back to top button