Local news

Só word ‘oom Pikkie’ onthou

Nico “Pikkie” Pienaar (77) van Bela-Bela se onverwagte dood op Maandag 1 Mei in die Montana-hospitaal in Pretoria, het baie mense laat terugdink oor dié man se groot bydrae in die gemeenskap.

“Oom Pikkie” soos hy alom bekend was, het diabetes gehad. Hy het in die verlede las gehad van wonde aan sy regtervoet en van sy tone is geamputeer. Daar het in Februarie vanjaar komplikasies ingetree en sy been is net onder die knie geamputeer.

“Hy het suikersiekte opgedoen weens skok nadat sy ma, Maxi, wat in Mosselbaai gewoon het, onverwags gesterf het,” vertel sy vrou, Elize. “In die laaste jaar van sy lewe het hy gereeld gesê hy is gereed om te gaan, want hy het vrede dat die kinders almal versorg en selfstandig is.”

Pienaar is in Durbanville in Kaapstad gebore waar hy sy skoolloopbaan voltooi het.

Hy het ná skool by die spoorweë aangesluit, maar het homself daarna as verkeersbeampte bekwaam en in verskeie dorpe fluks diens gedoen, voordat hy na Bela-Bela verhuis het en as hoof van die plaaslike verkeersafdeling ingeval het.

Pienaar was by verskeie organisasies in die dorp betrokke waaronder die destydse Lionsklub, die Waterberg ATKV-kunstefees, Bikers that Care, asook die jaarlikse vete-
raanvoertuig-uitstalling.

Hy het 13 jaar lank ’n bestuurskool in die dorp bedryf en honderde mense gehelp om hul bestuursvernuf te verbeter en geldige rybewyse te bekom.

“Hy was ’n baie wetsgehoorsame man. Hy het altyd gesê as iemand nie die wet kan gehoorsaam nie, hoe kan hulle gehoorsaam wees aan God? Hy sou aansoekers druip as hy agtergekom het hulle kan nie bestuur nie. Hy wou dit nie op sy gewete gehad het dat hy iemand laat slaag het en dat dié persoon dan ongelukke veroorsaak nie.”

Elize vertel dat sy Pienaar destyds by ’n skryfbehoeftewinkel in die dorp, Skribbel en Skryf, ontmoet het.

“Ná sy derde besoek het hy my uitgevra na die wildsfees wat by Hoërskool Warmbad gehou is. Ons het so lekker gesels — van kinders tot kosmaak. Ek sou nog leer dat hy smaaklike bredies en in besonder waterblommetjiebredie kon maak. Hy kon ook baie lekker snoek braai.”

Sy sê dat hy besonder lief was vir braai en sy kan nie dink dat ’n Saterdag verbygegaan het sonder dat hulle ’n vuur aangesteek het nie. Hulle het ook elke middag om 16:00 die ketel aangeskakel en ’n koppie tee saamgedrink terwyl hul die dag bespreek het.

“Dit was elke dag ons special moment,” vertel Elize.

Hy was ’n man van die natuur en het graag gekamp, motorfiets gery en groen vingers gehad as dit by tuinmaak kom.

“Die kinders het baie gesê dat dit hy was wat hulle lief gemaak het vir die natuur. Sy broodbome was pragtig en hy is selde sonder sy Jack Russel-hond of ’n kat in die arms gesien. Ek dink dit was baie frustrerend vir hom toe hy nie meer kon baie rondbeweeg nie.”

Sy sê diabete is geneig om vinnig dors of moeg te raak. Die siekte tas gewoonlik ’n persoon se organe aan.

Pienaar moes sy suikerinname baie deeglik dophou, maar soms het hy effe “gekroek” wanneer daar ’n koeksister in die yskas was, vertel Elize.

“Hy was ’n man wat nie wou sukkel nie. Hy was baie ongeduldig met homself en ’n perfeksionis. Tog was hy ’n baie goeie man wat sy Christelike waardes uitgeleef het,” vertel sy. “Al was hy streng, het hy ’n sagte hart gehad. Hy kon huil, soos wanneer ons ’n mooi fliek saam gekyk het. Hy het ’n romantiese streep gehad en het elke Valentynsdag vir my ’n roos gebring.”

Sy roudiens vind op Donderdag 11 Mei vanuit die NG Moedergemeente in Mentzlaan, Bela-Bela, plaas.

Hy laat Elize, sy suster Joey, ses kinders, 13 kleinkinders en twee agterkleinkinders na.

Related Articles

Back to top button