Local news

Rumatiek ry selfs die grootste katte

Katte mag dalk nege lewens hê, maar ook hulle voel die byt wat saam met die ouderdom kom.

Panjo, die 14-jarige tier van Vaalwater, voel die koue van die winter in sy linkerelmboog.

Dié tier het bekendheid verwerf toe hy in 2010, kort ná die wêreldbeker-sokkerreeks, ontsnap het terwyl sy eienaar, Goosey Fernandez, hom agterop ’n bakkie tussen Groblersdal en Bronkhorstspruit vervoer het. Panjo was toe op pad om ’n veearts te besoek. Met die wêreld se oë steeds op Suid-Afrika ná die sokker, het die ontsnapte 17 maande oue tier vinnig groot nuus geword. Daar is vier dae lank na hom gesoek voordat hy naby Groblersdal opgespoor is.

Volgens Justin Fernandez van die Jugomaro Predator Park, het Panjo die afgelope vier maande begin hinkepink. Daar word vermoed dat dit ’n ou besering is wat hy tydens sy ontsnapping opgedoen het toe hy destyds van die bakkie afgespring het, wat hom nou opkeil.

Foto’s bo en regs: ’n Span veeartse en veeartsenykunde-studente het Panjo die tier besoek om te kyk hoekom hy hinkepink.

’n Span veeartse en 20 veeartsenykunde-studente het op Vrydag 5 Mei by Jugomaro opgedaag om te kyk wat met Panjo skort.

“Ons wag nog om al die besonderhede by die veeartse te kry, maar hulle het hom verdoof en X-strale van sy rug, heupe en elmboë geneem. Dit lyk soos rumatiek in sy elmboog,” het Justin gesê. “Ons is baie dankbaar, want ons het ’n oproep gekry dat Indigo Equine and Vetenary Supplements sy medikasie vir die res van sy lewe sal borg.”

Justin het ’n noue band met sy groot katte en is reeds deur diep waters saam met hulle. Die gesin is ’n paar jaar ná Panjo se ontsnapping in 2015 gelikwideer en hulle moes noodgedwonge van voor af begin.

“Ons het in daardie stadium 23 groot katte gehad en kon tydelike huisvesting vir hulle in Krugersdorp kry. Dit was moeilike tye en ons het in ’n karavaan en tent in iemand se agterplaas by die katte gebly. Ons kon gelukkig in 2018 die grond in Vaalwater bekom,” het hy gesê.

Daar het hartseer hulle weer getref toe drie leeumannetjies en ’n tier deur stropers vergiftig is.

Jugomaro Predator Park is nou ingerig met groot kampe vir die diere wat beveilig is.

Volgens die Smithsonian-dieretuin word tiere in die natuur gewoonlik tussen 10 en 15 jaar oud. Omtrent die helfte van tierwelpies word nie ouer as twee jaar nie. In aanhouding kan hulle egter tot 20 jaar oud word.

Related Articles

Back to top button