Local news

Oordbestuurder skielik oorlede

Geloofsman, gesinsman, gemeenskapsman, kollega en vriend is wat mense sê van Tommie du Plessis (58), oordbestuurder van die Klein Kariba-vakansie-oord buite Bela-Bela, wat op Saterdagaand 6 Mei onverwags aan ’n hartaanval oorlede is.

Tommie het as ATKV-oordbestuurder diep spore getrap en sal onthou word vir sy standvastige leierskap, integriteit en humorsin. Hy het oor byna twee dekades aan die stuur van sake gestaan by ATKV-Natalia, ATKV-Eiland Spa, ATKV-Buffelspoort en meer onlangs by ATKV-Klein-Kariba.

Schalk Cilliers, besturende direkteur van ATKV-Sake, sê dit was ’n voorreg om te sien hoe Tommie mense as mentor kon motiveer en inspireer. Hy het die spesiale vermoë gehad om lewens aan te raak en altyd tyd gemaak vir ander mense.

“Sy heengaan is ’n groot verlies vir die ATKV. Ons dink aan sy naasbestaandes en dra elkeen van hulle in besonder aan ons Hemelse Vader in hierdie tyd op.”

Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie. Hy laat sy vrou en twee kinders agter.

Related Articles

Back to top button