Local news

Kleuterhoof groet ná lang loopbaan

Kinders kan ons soveel leer en ons lewens op soveel gebiede verryk, sê Elmarie van Wyk, gewese hoof van die Klein Treetjies-kleuterskool in Modimolle.

Sy het einde April ná 32 jaar getroue diens afgetree en gesels vandeesweek met Die Pos oor haar loopbaan in die onderwys wat oor 47 jaar strek.

“My tyd by Klein Treetjies was wonderlik. Daar was nie ’n enkele dag dat ek gedink het ek wil nie vandag skool toe gaan nie. Selfs al het jy ’n hoofpyn of is moeg; as daardie klein mensies eers so opgewonde groet met ‘Hello, Tannie’, is alles weer reg,” sê sy.

Dié SAVF-kleuterskool in Modimolle sien na sowat 70 kinders om en het ook ’n na-skoolsentrum.

“Ek hou al so lank hier skool dat van my leerders al hul eie kinders hier kom inskryf het. Ek het ook al mense aangestel wat by my in die kleuterskool was.”

Die vrou met haar blou oë en blonde krulle glo dat ’n probleem so gou moontlik opgelos moet word.

“Ek was kwaai met die personeel. As jy ’n kleuterskooljuffrou is, kan jy jou oë nie vir ’n oomblik van die kinders afhaal nie. Daar is nie tyd vir sit nie. Ons het uiteraard ons vergaderings na-ure gehou wanneer die kinders reeds huis toe was.”

Sy is vol lof vir die personeelspan waarmee sy by die skool gewerk het.

Daar is baie by die kleinspan te leer, glo Van Wyk.

“Jong kinders is baie eerlik en is onvoorwaardelik lief vir ’n mens. As jy met hulle raas, vergeet hulle gou en bly nooit lank kwaad nie. Hulle is liefdevol en wys dit vir ’n mens. Dit is iets wat ons volwassenes by hulle kan leer.”

Sy verstaan die kuns om die klei wat jong mensies is, te vorm.

Soos elke loopbaan was daar heelwat hoogte- en laagtepunte. Van Wyk verkies om na die laagtepunte eerder as uitdagings te verwys, want dit kan opgelos word.

“Die Covid-19-pandemie was ’n moeilike tyd met baie kinders wat die skool verlaat het. Dit was ook nooit lekker as ouers deur hartseertye gaan soos ’n egskeiding nie of om met ouers te praat wat nie hul kind se belange op die hart dra nie.”

Om ’n skoolhoof te wees, of dit nou ’n kleuter-, laer- of hoërskool is, vereis veel meer as om net ’n onderwyser te wees. Dieselfde vaardighede as om ’n sakeonderneming te bestuur, word vereis. Benewens personeelbestuur moet daar na die fasiliteite omgesien word en begrotings opgestel word en nougesette finansiëlebestuur toegepas word.

Nadat Van Wyk onderwys gestudeer het, het sy ook ’n diploma in kuns voltooi.

“Noudat ek afgetree het, is dit tyd om hierdie ander groot liefde van my uit te leef,” sê sy.

In haar kunsateljee hang skilderye waar sy met baie detail op fyn sy geskilder het. Die ragfyn-sy word van Japan af ingevoer en die spesiale verf, wat amper so dun soos water is, kom van Amerika. Dit is uitdagend om op sy te skilder, want die verf bloei baie maklik en daar kan nie, soos met olieverf, bo-oor geskilder word nie. Hierdie talent van haar het gehelp om haar drie seuns, Pieter, Herman en Jan-Botha, se studies te betaal. Sy is baie lief daarvoor om voëls te skilder, maar skilder ook fyn prentjies op kaartjies van moerbeipapier.

Van Wyk se man, Wentzel, was jare lank ’n wiskunde-onderwyser by Hoërskool Nylstroom en gee tans klas by Modimolle Academy in die dorp.

Een van die oomblikke by die skool wat haar sal bybly, is ’n driejarige wat huis-toe-gaan-tyd agter haar aandraf en met ’n lispel-tongetjie geroep het: Ek gaan Juffrou mith!

“Dit is presies hoe ek voel: ek gaan hulle mith!”

Related Articles

Back to top button