Local news

Stalletjie ’n fees vir boekwurms

Trevor Fenn, wat met sy wit bakkie en kratte vol boeke onder die bome langs Thabo Mbekiweg in Modimolle staan, laat menige boekwurms se harte warm klop.

Nie net kry diegene wat tussen die tweedehandse boeke deursnuffel dikwels ’n boek waarna hulle lank reeds gesoek het nie, maar Fenn, met sy wye leeskennis, gee goeie raad. Hy is boonop goeie geselskap, want al daardie lees sorg vir ’n algemene kennis so wyd soos die Heer se genade.

Hoe het Fenn ’n boekverkoper geword? Voor die Covid-19-pandemie was hy ’n opmeter in die Middelburg-omgewing. Tydens die pandemie het hy sy werk verloor en kon hy nie ander werk kry nie. Hy het een van sy bene weens diabetes verloor: ’n klein seertjie wat net nie wou gesond word nie.

“Ek het twee jaar gelede besef ek gaan gek word as ek net so by die huis bly sit. Ek is my lewe lank nog baie lief vir lees en het baie boeke by die huis gehad. Dit is toe dat ek besluit om van daardie boeke in my bakkie te laai en te kyk of mense dit wil koop.”

Lesers het hom en sy bekostigbare boeke met ope arms verwelkom.

Fenn het ’n mooi “kantoor” onder die swart apiesdoringbome:

“Dit is so rustig hier. Ek sien hoe die seisoene verander. Kyk net die baie peule wat aan hierdie bome hang; dit is ’n besondere jaar ná die goeie reën. Later in die jaar geniet ek weer die jakarandas en koraalbome wat blom.”

Een van die hoogtepunte is die interessante mense wat hy ontmoet.

“Ek het baie boekvriende hier gemaak. ’n Mens leer ken nogal iemand deur die soort boeke wat hulle kies om te lees,” sê hy.

Hy beduie in sy skik: “Kyk, hier het netnou iemand stilgehou om vir my ’n boek wat hy onlangs geskryf het, te gee. Ek gaan hierdie ene vir myself hou en nie verkoop nie!” vertel hy en beduie na Richard Wadley van Vaalwater se boek Waterberg Ways.

Dit is veral tydens maandeinde dat dinge besig raak tussen die boekkratte met hul boeke wat se pryse begin by so min as R5.

“Ek dink wanneer mense trek, is die kartonbokse vol boeke te swaar en lomp. Hulle bring dit dan vir my om weer te verkoop.”

Een van sy grootste vondse nog was ’n 1928-familiebybel.

“Dit was soos ’n familie se storie wat voor ’n mens afspeel. Voor in die Bybel is geboortes en sterftes vir ’n paar geslagte lank opgeteken. Wanneer ’n mens deur die Bybel blaai, kom jy op van daardie mense se begrafnisbriewe af.”

Hoewel hy al talle ensiklopedië ontvang het, stel min mense daarin belang.

“Ek het vir skole gegee, maar deesdae se jonges slaan dinge sommer gou op hul selfone na.”

Die boeke wat inwoners die gretigste is om te lees, is Afrikaanse romanses en boeke van staatmakers soos James Patterson en Louis L’amour.

Van sy eie gunstelinge is daar baie: The World According to Garp deur John Iring, The Book Thief deur Markus Zusak, Ons is nie almal so nie van Jeanne Goosen, Before The Knife van Caroline Slaughter en Odette Scheepers se Swartskaap. Op sy skoot balanseer hy die lywige boek Shantaram van Gregory David Roberts.

“Dis nou ’n lekker lees! Dit handel oor ’n bankrower en verslaafde wat uit die tronk ontsnap en Indië toe vlug. Ek dink ek gaan hierdie ene ook vir myself hou — ek het baie, baie boeke by die huis.”

Fenn laat nie sommer ’n kind met leë hande wegstap nie.

“Hier kom soms hoërskoolkinders verbygestap. Ek het vir ’n seun wat belanggestel het in een van die boeke een present gegee — dit was so lekker om daardie opgewondenheid op sy gesig te sien! “Ek sê vir die jongetjies: as jy ’n boek het, het jy nie nodig om te sukkel nie. Dit werk nie met elektrisiteit of ’n battery nie en dit gebruik nie data wat kan klaar raak nie. Jy kan dit aansit en afsit net wanneer jy wil.”

Fenn beaam: elke leser weet daar wag ’n magdom reise en ervarings op diegene wat lees.

Related Articles

Back to top button