Local news

Blokhuis lyk weer soos nuut

Die Engelse blokhuis wat sedert die Anglo-Boereoorlog in Bela-Bela bestaan, het op Saterdag 29 April ná jare se verwaarlosing weer nuwe asem gekry.

Lede van die Bela-Bela Heritage-organisasie het ingespring en die plek weer opgeknap.

Johan van Niekerk, Heritage-voorsitter, sê hulle het die opknappingsaksie, Project Resque, van stapel gestuur om weer geskiedkundige bakens in die omgewing bestaansreg te gee.

“Die blokhuis in die dorp se industriële gebied is jare lank as ’n stortingsterrein gebruik. Rommel is met ons vorige besoek in en om die die gebou aangetref.”

Van Niekerk is al geruime tyd met die Bela-Bela-munisipaliteit in gesprek om hulle te oorreed om ’n bydrae te lewer met die opknapping en bewaring van gedenkwaardige geboue in die omgewing. Die raad moet betrokke wees by die geskiedenis van die dorp, het hy gesê.

Hy sê dit was verblydend om te sien dat munisipale werkers ingespring en bome om die gebou uitgehaal en vullis binne en buite die gebou opgeruim en verwyder het.

Die Heritage-lede het die stof, wat dekades lank vergader het, weggevee en die gebou ’n nuwe laag verf gegee.

Volgens hom is die blokhuis een van die besbewaarde persele van die Anglo Boereoorlog-tydperk wat vandag nog in die land bestaan.

Die opknapping kon nie op ’n beter tyd plaasgevind het nie, aangesien Mauritz Hansen, oud-skoolhoof en bekende geskiedskrywer van Mookgophong, ’n geskiedenistoer na Bela-Bela,

Modimolle en Mookgophong beplan. Die toer vind vanaf Maandag 8 Mei plaas en die blokhuis is juis op die toer se roete.

Van Niekerk sê daar is deesdae ’n groot oplewing in belangstelling in die land se geskiedenis.

“Ons was bevoorreg om ’n voormalige lid van die Britse-weermag en historikus, Dominic Hoole, gehad het wat gehelp het met die opknapping,” vertel Van Niekerk. “Ek dink die dag was ’n groot sukses. Baie dankie aan almal wat kom hand bysit het.”

  • Die blokhuis is in 1901 deur die Britse militêre ingenieurs tydens die Anglo-Boereoorlog gebou om die spoortnetwerk tydens die oorlog van aanvalle te beskerm.

Die perseel is ’n erkende nasionale gedenkwaardigheid en verskyn op die Suid-Afrikaanse erfenis hulpbron-agentskap (SAHRA) se databasis.

Dit is Bela-Bela Heritage se doel om geskiedkundige persele vir die nageslag te bewaar. Enigiemand wat dieselfde hieroor voel kan gerus by die organisasie inskakel.

Related Articles

Back to top button