Local news

Bela-Bela se waterprobleme lê by munisipale infrastruktuur

Die rede hoekom Bela-Bela-inwoners steeds kort-kort sonder water is, lê steeds by die suiweringsaanleg wat nie sy volle kapasiteit water kan lewer nie.

Die afgesaagde verskoning van die munisipaliteit is dat Eskom-beurtkrag die grootste bydraende faktor is hoekom die aanleg nie aan die aanvraag kan voldoen nie.

“Daar is geen watertekort in ons dorp nie. Die damme is vol en ons ontvang ekstra water vanaf Magalies Waterraad vanuit die Roodeplaat-dam. Die probleem is munisipale infrastruktuur wat nie voldoende gesuiwerde water kan lewer nie,” sê Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid vir Wyk 1.

Gloria Seleka, Bela-Bela-burgemeester, het in April 2022 beloof dat hoë-kapasiteitkragopwekkers aangeskaf sal word om die waterinfrastruktuur aan die gang te hou tydens beurtkrag. Van dié beloofde agt kragopwekkers is daar egter steeds geen teken nie.

Sy het weer op Maandag 24 April tydens die dorp se begrotingsvergadering vir die komende boekjaar beloof dat die kragopwekkers “baie beslis” einde April in Bela-Bela sal wees.

Die Pos het die suiweringswerke op Dinsdag 2 Mei besoek, maar slegs die fondasie waarop die kragopwekkers gemonteer moet word, is daar aangetref.

Cloete sê by navraag hoewel die kragopwekkers baie nodig is, dink hy nie dit gaan veel verander aan die huidige toestand nie.

“Ons ondersoeke toon dat daar minstens agt infrastruktuurpunte in die aanleg is wat disfunksioneel is. Ons vermoed die kontrakteur wat verantwoordelik was om die plek oor die laaste paar jaar op te gradeer, het nie sy plig nagekom nie,” sê Cloete.

“Die aanleg behoort 7,5 mega liter per dag te kan suiwer, maar kan onder die huidige omstandighede slegs 2,7 mega liter hanteer. Magalies se kwota is reeds gehalveer omdat hul pompstasies na ons gebied nie kragopwekkers het nie.”

Samesprekings oor gebreke in die aanleg het tydens die onlangse munisipale raadsvergadering plaasgevind.

Cloete sê daar word nou gewag op siviele ingenieursverslae wat die omvang van die probleem verduidelik waarna ’n plan van aksie deur die munisipaliteit opgetrek sal word.

Dit sal ook bepaal of iemand tot verantwoording geroep moet word rakende die instandhouding van die dorp se waterinfrastruktuur, sê Cloete.

Related Articles

Back to top button