Local news

Planne vir nuwe hospitaal goed op koers

Daar word fluks agter die skerms gewerk om die beoogde privaat hospitaal in Modimolle van die grond af te kry.

Wiets Botes, besturende direkteur van die Waterberg Healthcare Hup (WHH), sê sedert die lisensie vir die oprigting van ’n hospitaal einde Januarie vanjaar goedgekeur is, is sy span hard aan die werk.

Die WHH bestaan uit ’n groep sakelui wat verlede jaar by die departement van gesondheid aansoek gedoen het om ’n lisensie te bekom vir die oprigting van ’n privaat hospitaal.

Modimolle en omliggende dorpe se inwoners het die goedkeuring van die lisensie met ope arms verwelkom. Sedert die Phodi-Clinic in Bela-Bela sy deure in April verlede jaar gesluit het, moet inwoners noodgedwonge na Pretoria ry vir noodgevalle of hospitaalbesoeke.

Botes het vandeesweek aan Die Pos gesê die lisensie het sekere vereistes soos dat die WHH elke ses maande ’n verslag moet indien oor die vordering.

“Die WHH het ook 18 maande tyd vanaf die uitreiking van die lisensie toegestaan om goedgekeurde planne by die departement van gesondheid in te dien. Daarna het die WHH 12 maande om die penne in die grond te kry.”

Botes sê die WHH het reeds met ’n hele paar hospitaalgroepe samesprekings gevoer.

“Ons is opgewonde om bekend te maak dat ons onderhandelinge tans in ’n gevorderde stadium is. Daar is egter nog nie bevestiging van die ligging van die hospitaal nie.”

Botes sê dit is steeds die WHH se missie om ’n gehalte gesondheidsorgfasiliteit vir die inwoners te bied.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button